Dit raak duidelik dat mense in die Wes-Kaapse landbougemeenskap moeg raak vir die opsweping van Nosey Pieterse, sekretaris-generaal van die plaaswerkersvakbond Bawusa, en die groot onmin wat hy tussen boere en plaasarbeiders skep tot sy eie voordeel, sê dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die VF Plus.
In 2012 het Pieterse se betrokkenheid gelei tot groot opstande in die omgewing. Presies ‘n jaar gelede het skaars meer as ‘n honderd mense by sy beplande protesoptog opgedaag. Luidens ‘n berig in Die Burger vandag (3 November) het inwoners nou die rug op hom gedraai en niemand was bereid om deel te wees van sy beplande optog nie. Hulle is glo ‘siek en sat’ van Pieterse se inmenging.
Dr. Mulder sê dit het die boodskap nou hard en duidelik uitgestuur dat plaaswerkers nie langer deel wil wees van die ANC en sy meelopers se ontwrigtingstaktiek in die provinsie nie.
“Dit is belangrik dat die ANC se leier in die Wes-Kaap, Marius Fransman, asook Tony Ehrenreich van Cosatu deeglik hiervan kennis neem. ‘n Nuwe dinamika is in die Kaap aan die ontwikkel en dinge soos die Korrektiewe Dienste-hofsaak laat veral die bruin gemeenskap se oë oopgaan oor die ANC se ongeërgdheid jeens minderhede soos bruin en wit.
“Selfs op grondvlak begin die werkers self sien hoe Pieterse en ander net in seisoentyd met hul ontwrigtingspoging vorendag kom, soos die laaste paar jaar in De Doorns gebeur het.
“Die VF Plus het Pieterse reeds genooi om bewyse voor te lê dat boere die laaste jaar op groot skaal begin het om werkers se diensvoorwaarwaardes te verander en hulle af te lê. Ons vra hom weer om daarmee vorendag te kom, of sy bewerings terug te trek.
“Ontevrede werkers is ‘n goeie voedingsbron vir ‘n werkersvakbond soos Bawusa. Wat nou gebeur voorspel dus niks goed vir Pieterse nie,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403