Die Vryheidsfront Plus het met skok verneem dat belastingbetalers van die Nala-munisipaliteit moet opdok vir die skade wat aangerig is toe lede van die EVV(Ekonomiese Vryheidsvegters) probeer het om die huise van vier raadslede van die munisipaliteit in Bothaville af te brand. Valerie Maas, raadslid van die Vryheidsfront Plus vir die Nala-munisipaliteit, sê dat sy uit betroubare bronne verneem het dat die munisipaliteit onderneem het om vir die skade aan die privaat huise van die raadslede in te staan.
Maas sê dat dit totaal onaanvaarbaar is omdat die raadslede verantwoordelik is vir hulle eie versekering, asook vir die skade aan hulle eiendom. Daar kan onder geen omstandighede van die belastingbetalers van die munisipaliteit verwag word om vir hierdie skade in te staan nie.
Maas sê dat dit ook onder die Vryheidsfront Plus se aandag gekom het dat die vier raadslede en hulle gesinne al vir vier weke in ‘n plaaslike hotel in Bothaville gehuisves word waarvoor die munisipaliteit ook die koste dra. Dit is nie net die verblyf van die ongeveer 16 mense wat betaal word nie, maar hulle word ook daagliks van kos voorsien waarvoor die belastingbetalers ook moet opdok. Na raming is ongeveer R150 000 alreeds deur die munisipaliteit op hierdie manier verkwis. Dit is verregaande as in ag geneem word dat die munisipaliteit nie oor fondse beskik om die strate te herstel of om Bothaville skoon te maak nie. Die plaaslike gemeenskap en boere van die omgewing het vir etlike dae, op hulle koste, die dorp skoon gemaak omdat hulle nie langer die toestand kon verduur nie. Die munisipaliteit het geskitter in hulle afwesigheid terwyl hulle werkers onder bome in die dorp rondgelê het.
Die grootskaalse gemors waarin die hele Nala-munisipaliteit verkeer is weereens ‘n bewys dat die ANC-beheerde stadsraad nie oor die wil of vermoë beskik om die probleme van die munisipaliteit op te los nie. Regstellende aksie, waar kundige amptenare vervang is met onbevoegdes, is grootliks verantwoordelik vir die haglike omstandighede waarin munisipaliteite hulleself bevind. Die Vryheidsfront Plus dring daarop aan dat meriete die enigste maatstaf moet wees wanneer amptenare aangestel word.
VALERIE MAAS
Kontaknommer: 082 9250835