fbpx
Vryheidsfront Plus

Dood van Meyiwa ‘n wekroep op ANC om te erken misdaad is buite beheer

Die moord op Sezo Meyiwa, sokkerkaptein van Suid-Afrika, is ‘n tragiese refleksie op die misdaadsituasie in Suid-Afrika en die VF Plus betuig sy medelye met die naasbestaandes van die begaafde sportster wat sy land op die hoogste vlak verteenwoordig het,” sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

“Dit is jammer dat ‘n treurspel soos hierdie die vergrootglas moet plaas op die buitengewoon hoë vlakke van misdaad en geweld waaraan elke persoon in die land onderwerp is, en op die regering se oënskynlike onvermoë om sy burgers te beskerm.

“Dit is ook jammer dat die regering steeds nie bereid is om te erken dat misdaad in die land buite beheer is nie. Verlede maand het die polisiehoof, genl. Riah Phiyega, aangekondig dat 47 mense per dag in Suid-Afrika vermoor word. Volgens haar is dit nie ‘n krisis nie.

“Die VF Plus verskil hiermee met die kommissaris. Misdaad het lank reeds krisisafmetings aangeneem. Elkeen van daardie 47 mense wat daagliks vermoor word, is ‘n mens met geliefdes en dalk ‘n gesin. Soos Meyiwa is hulle nie net ‘n nommer nie.

“Die regering moet nou erken dat misdaad, en veral kontakmisdaad, feitlik buite beheer is. Daadwerklike stappe sal onverwyld geneem moet word om wetsgehoorsame burgers weer veilig in hul eie land te laat voel,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.