Die munisipale oorsigverslag, wat vandag tydens die sitting van die Noord-Kaap se provinsiale wetgewer in Kuruman ter tafel gelê is, bevestig wat gemeenskappe jare lank ervaar: Plaaslike regering in groot dele van die Noord-Kaap verkeer in ‘n ernstige toestand van verval.
Hierdie verslag bevestig die bevindings van die menseregtekommissie(MRK) en die ouditeur-generaal (OG). Al drie onafhanklike instellings wys op swak bestuur, onvoldoende aanspreeklikheid, finansiële wanbestuur, vervalle infrastruktuur en ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid.
Die verslag identifiseer herhalende probleme soos buitensporige waterverliese, swak rioolbestuur, onvoldoende instandhouding van infrastruktuur, onaanvaarbare vlakke van ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes, swak funksionerende openbare rekeninge-komitees en die feit dat ondersoeke oor finansiële wangedrag dikwels jare neem sonder sigbare gevolge.
Verslae en aanbevelings op hul eie gaan egter nie munisipaliteite herstel nie. Die Noord-Kaap het nie ‘n tekort aan verslae nie, maar wel vir dertig jaar ‘n tekort aan enige politieke wil om op te tree en verantwoordbaarheid af te dwing.
Die VF Plus doen daarom ‘n beroep op die provinsiale regering om hierdie verslag nie bloot ter tafel te lê nie. Elke aanbeveling moet ‘n duidelike sperdatum hê sodat die provinsie vordering deurlopend kan dophou en kan optree waar munisipale rade of amptenare versuim om hul wetlike pligte na te kom.
Gemeenskappe het nie nóg beloftes nodig nie, hulle het funksionerende munisipaliteite nodig.
Die VF Plus sal voortgaan om deur daadwerklike toesig en regsoptrede waar nodig, openbare aanspreeklikheid te verseker.
Dan sal hierdie verslag nie net nog ‘n dokument op ‘n rak word nie, maar die begin wees van werklike herstel in die Noord-Kaap.


