Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onwettige jag bedreig Overstrand se natuurlike erfenis

Die DA-beheerde Overstrand-munisipaliteit en CapeNature moet dringend optree teen die toenemende onwettige jag met honde en die gebruik van draadstrikke in die Overstrand en Overberg.

Ondanks talle gesprekke met die munisipaliteit en CapeNature, is daar ná bykans twee jaar steeds geen omvattende strategie om met hierdie ernstige krisis te handel nie.

Die Overstrand vorm deel van die internasionaal erkende Unesco Kogelberg-biosfeerreservaat, wat wêreldwyd bekend is vir sy uitsonderlike biodiversiteit, unieke fynbos en waardevolle wildlewe. Hierdie status bring ‘n verantwoordelikheid om die gebied te beskerm. Dit kan nie op die skouers van inwoners, boere, grondeienaars en vrywilligers alleen rus nie.

Die munisipaliteit en CapeNature moet hul wetlike pligte nakom en sigbare optrede verseker.

Draadstrikke en jag met honde eis die lewe van klein wildsbokke, ystervarke, rooikatte, skilpaaie, hase, muishonde en talle ander spesies.

Dit plaas verdere druk op reeds kwesbare wildbevolkings en bedreig die ekologiese balans van die gebied.

Onwettige toegangspaaie, die vertrapping van sensitiewe plantegroei en versteuring van broeigebiede veroorsaak verdere skade aan hierdie unieke ekosisteem.

Die VF Plus versoek daarom dat die Overstrand-munisipaliteit en CapeNature binne 30 dae ‘n openbare aksieplan bekend maak wat onder meer die volgende insluit:

• Verhoogde patrollies in bekende probleemgebiede.
• ‘n Gesamentlike operasionele plan tussen CapeNature, die munisipaliteit, die polisie en omgewingsorganisasies.
• Gereelde verwydering van draadstrikke.
• Beter intelligensie-insameling en streng vervolging van oortreders.
• ‘n Toeganklike openbare verslagdoeningstelsel.
• Voldoende finansiële en menslike hulpbronne vir bewaringstoepassing.
• Deursigtige verslagdoening oor ondersoeke, inhegtenisname en vervolgings.
• Opvoedingsprogramme oor die wetlike en ekologiese gevolge van onwettige jag.

Die Overstrand-munisipaliteit beskik reeds oor ‘n gespesialiseerde wetstoepassingseenheid met opgeleide honde wat vir die opsporing van perlemoen en dwelms gebruik word. Dié hulpbronne kan ook aangewend word om onwettige jag en stropery van wildslewe te bekamp.

Die party versoek verder dat ‘n openbare vergadering binne 60 dae gehou word waar die munisipaliteit en CapeNature inwoners kan inlig oor die stappe wat geneem gaan word, hoeveel sake reeds ondersoek is, hoeveel suksesvolle vervolgings plaasgevind het en watter hulpbronne vir die beskerming van die gebied beskikbaar gestel word.

Die VF Plus doen ook ‘n beroep op inwoners, boere, grondeienaars, stappers en besoekers om verdagte bedrywighede aan te meld en saam te werk om hierdie kosbare omgewing te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.