Mogale City-munisipaliteit (Krugersdorp, Muldersdrift, Magaliesburg, Tarlton) se tariefverhoging wat vandag in werking tree, sal veroorsaak dat dienste vir baie inwoners onbekostigbaar word en groter druk op gesinne plaas om finansieel kop bo water te hou.
Hierdie buitensporige verhogings is die gevolg van jare se swak beplanning, wanbestuur en onverantwoordelike besteding van belastingbetalers se geld.
Die tariefverhogings is soos volg:
• Elektrisiteit: 9,01%
• Water: 11%
• Sanitasie: tot 4,3%
• Vullisverwydering: 4,3%
• Diverse dienste: 4,3%
Indien die munisipaliteit belastinggeld van die begin af verantwoordelik bestuur en aangewend het, sou sulke buitensporige verhogings nie nodig gewees het nie.
Die VF Plus het nie die 2026/27-finansiële begroting gesteun nie omdat dit nie die weerspieëling is van die werklikheid waarmee inwoners daagliks gekonfronteer word nie.
Die party was ook die eerste party wat die sogenaamde bloktariefstelsel vir krag in die raad teengestaan het wat vandag iets van die verlede is.
Die ANC-koalisie het die teenkanting as ʼn politieke spel afgemaak, maar die VF Plus het volgehoue druk toegepas.
Die VF Plus se doelwit is om nuwe ondernemers terug te lok en werksgeleenthede te skep.
Die tyd is nou om die huidige administrasie te vervang met ‘n regering wat ekonomiese groei, verantwoordbare bestuur en die welstand van inwoners eerste stel.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem om dit ʼn realiteit te maak.


