Die VF Plus het tydens hierdie week se raadsvergadering van die Mangaung-metro sy ernstige kommer uitgespreek oor die metro se R18,5 miljoen-bergingsprojek nadat meer as R1,1 miljoen reeds aan konsultante betaal is sonder dat enige bergingsgerief opgerig is.
Die dienskontrakte van Nala Construction Services en Mogalemole Consulting Engineers is reeds drie jaar aan die gang, maar die beplanningsfase het steeds nie tot konstruksie gelei nie. Die metro vra nou dat die kontrakte tot September 2027 verleng word.
Die projek behels die oprigting van ’n sentrale bergingsgerief vir watermeters wat tans op verskeie plekke regoor die metro gehou word.
Geen pakkamer behoort drie jaar se beplanning te verg nie. Tog is meer as R1,1 miljoen reeds aan konsultasiedienste bestee sonder enige sigbare resultaat.
Die VF Plus het geëis dat die metro ’n vorderingsverslag aan die raad voorlê wat uiteensit presies watter werk vir die R1,1 miljoen gelewer is en wie aanspreeklik gehou gaan word vir die feit dat daar ná drie jaar steeds geen vordering of gebou is om daarvoor te wys nie.
Terwyl inwoners met slaggate, wateronderbrekings en vervalle infrastruktuur worstel, vermors die ANC geld omdat hy nie eens eenvoudige projekte betyds kan afhandel nie.
Dit is tyd om ’n einde te maak aan die ANC se swak bestuur en vermorsing van belastingbetalers se geld.
Inwoners moet seker maak dat hulle korrek geregistreer om op 4 November vir die VF Plus te stem vir beter bestuur en infrastruktuur wat werk.


