Die toestand van die Westonaria-begraafplaas is onaanvaarbaar. Nie alleen is dit ’n seer oog vir besoekers nie, maar dit hou ook veiligheidsrisiko’s in weens die afwesigheid van sigbare sekuriteit.
Tydens ’n oorsigbesoek van die VF Plus is gevind dat grafte gevandaliseer is en bome deur grafstene groei terwyl die gras kniehoog staan en die paadjies tussen die grafte vol onkruid staan.
Daarby is die toegangshek verwyder en geen wag was aan diens om die terrein te beveilig nie.
Die wet verplig munisipaliteite om begraafplase te bestuur en te onderhou wat insluit heinings, hekke, paaie en dreineringstelsels.
Die instandhouding van individuele grafte bly die verantwoordelikheid van naasbestaandes, maar die munisipaliteit moet die terrein versorg.
Die VF Plus het die Rand West-plaaslike munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir sport, kuns en ontspanning, Desmond Ndzipho, versoek om dringend toe te sien dat die begraafplaas behoorlik onderhou word en dat voldoende sekuriteit verskaf word.
Die party sal gereeld opvolgbesoeke doen en druk uitoefen totdat daar daadwerklike optrede geneem word en die gemeenskap in veiligheid hul geliefdes kan besoek.


