Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement sê daar is genoeg brandstof, tog is voorraad by vulstasies beperk – Waar is die brandstof dan?

In ‘n mediaverklaring het die departement van minerale- en petroleumhulpbronne gister die versekering gegee dat voldoende brandstof in die land beskikbaar is, ten spyte van internasionale konflik. Tog het die VF Plus briewe van brandstofverskaffers gesien waarin vulstasies teen tekorte gewaarsku word.

‘n Lang lys van vulstasies wat reeds droog is, doen ook die rondte op sosiale media. Die vraag is dan: Waar is die brandstof?

Die departementele verduideliking maak sin: Bestellings wat voor die huidige oorlog in Iran gemaak is, moet Suid-Afrika nog tot vroeg in April bereik. Ongeag die oorlog, kan daar tans nog nie binnelandse tekorte wees nie. Tog vind onafhanklike brandstofhandelaars en agente van multinasionale maatskappye dit moeilik om voldoende voorraad te bekom. Verskeie skrywes in dié verband is in die VF Plus se besit.

Een moontlike verklaring is dat voorraad teruggehou word tot die volgende maand se brandstofprys in werking tree. Die onderverhaling van petrol is tans rondom R4 per liter en van diesel ongeveer R7. Dit beteken dat potensieel groot wins uit die terughou van voorraad te maak is.

Brandstoftekorte, ongeag of dit werklik of kunsmatig geskep is, kan geweldige skade aan die ekonomie aanrig. Dit kan tot prysverhogings lei wat gewone verbruikers nie kan bybring nie en selfs voedseltekorte in kwesbare gemeenskappe.

Die somersaaigebiede nader tans oestyd. Graan wat op die lande bly staan, sal rampspoedig wees. Trouens, die hele Suid-Afrikaanse ekonomie is van vloeibare brandstof afhanklik.

Sasol produseer tans sowat dertig persent daarvan binnelands, die res word ingevoer. Dit maak Suid-Afrika uiters kwesbaar tydens internasionale konflikte.

Die VF Plus vertrou dat die departement van minerale- en petroleumhulpbronne die deursigtigheid sal handhaaf wat sy verklaring beloof.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.