Die VF Plus het met volgehoue druk seker gemaak dat die Gautengse onderwysdepartement nou die langverwagte herstelwerk aan Hoërskool Carletonville aanpak.
Die skool het in 2024 ernstige skade opgedoen weens swaar reën. Twee klaskamers moes ontruim word en is sedertdien onbruikbaar.
Die VF Plus het onlangs skriftelike vrae gerig aan die LUR vir onderwys, Matome Chiloane, waarop eindelik antwoorde ontvang is wat aandui dat die onderwysdepartement die skade gaan herstel.
In sy mondelinge antwoord tydens ‘n sitting van die Gauteng-wetgewer het Chiloane aangekondig dat ‘n kontrakteur reeds aangestel is. Die projek word vandag, 19 Maart 2026, amptelik aan die kontrakteur oorhandig met die doel om alles teen 17 Julie 2026 af te handel.
Die werk sluit in die herstel van talryke krake, die dak en dakrame, herbou van gekraakte mure asook die herstel van vensters en die betonblad.
Hierdie deurbraak volg nadat die VF Plus die kwessie verlede jaar onder die departement se aandag gebring het en dit deurlopend opgevolg het.
Die departement het aanvanklik beplan om in 2025 met die projek te begin, maar fondse het opgedroog.
Die VF Plus het vervolgens druk uitgeoefen sodat die Hoërskool Carletonville prioriteit kry vir herstel in 2026. Die proses is nou aan die gang.
Die party verwelkom die aanstelling van die kontrakteur en sal die vordering noukeurig monitor om te seker te maak die werk word volgend plan voltooi.
Ongelukkig het talle openbare skole in Gauteng dringende onderhouds- en herstelwerk nodig wat nie voldoende aandag kry nie. ‘n Gebrek aan vinnige optrede stel leerders en onderwysers se veiligheid in gevaar. ‘n Herhaling van die Hoërskool Driehoek-tragedie moet ten alle koste vermy word.
Die VF Plus nooi alle Gautengse openbare skole met dringende herstelbehoeftes uit om met die party kontak te maak. Die party tree graag namens hulle in by die onderwysdepartement.


