Meer as vier uit tien mense in Suid-Afrika het nie ʼn werk nie. Hulle is desperaat, honger en sonder hoop. Vir baie is misdaad toenemend die enigste manier om te oorleef.
Luidens die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA) het gewone werkloosheid gestyg van 32,1% tot 32,9% en “uitgebreide werkloosheid” van 41,1% tot 41,9%. Bykans ʼn volle persentasiepunt.
Vir die VF Plus is SSA se term “uitgebreide werkloosheid” ʼn eufemisme om die harde werklikheid van die omvang van werkloosheid te versag.
“Uitgebreide werkloosheid” sluit mense in wat reeds moed opgegee het om aktief werk te soek omdat hulle bloot nie werk in ʼn deurlopend verswakkende ekonomiese arbeidsmark kry nie.
Daar kan dus net een werklike werkloosheidsyfer wees, en dit is die een wat aandui hoeveel mense in die land onder die ANC nie werk het nie, naamlik 42,98%.
Tog spog die ANC op sy verkiesingsplakkate steeds dat daar ná dertigjaar onder sy regering ʼn ‘Beter bestaan vir almal” sal wees indien hy aan bewind bly.
Die ironie is dat sowat vier uit tien mense – dalk meer – vir die ANC stem omdat hulle bly vaskleef aan leë beloftes en die verskrikking van apartheid wat steeds vanuit die ANC se hangkas bly loer.
Gewone Suid-Afrikaners moet werkloosheid sien vir wat dit is; die gevolg van ʼn regering wat onbevoeg en korrup is en sy beleid hoofsaaklik rig om mense van hom afhanklik te hou. Dit het die ekonomie vernietig.
Die VF Plus sê jare reeds dat werkloosheid om hierdie redes net sal aanhou styg. Soos misdaad.
Die enigste oplossing wat die ANC hiervoor het, is meer maatskaplike toelaes en onuitvoerbare beloftes soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat die illusie wil skep van wêreldklas-gesondheidsorg vir elke persoon in Suid-Afrika.
Dit is nie moontlik nie en die waarheid is dat daar uiteindelik feitlik niks vir niemand gaan oorbly nie. Die land se totale gesondheidstelsel sal in duie stort soos Eskom en al die ander staatsentiteite waaraan die ANC geraak het.
Daar is tans net 7 miljoen mense in die land wat belasting betaal en wat die ANC se beloftes moet finansier en 63 miljoen mense moet onderhou. Dit is nie volhoubaar nie.
Soos die VF Plus in sy Verkiesingsmanifes 2024 duidelik uitwys is ʼn gesonde en lewenskragtige ekonomie gerugsteun deur ʼn dinamiese vryemarkstelsel die sleutel tot voorspoed en welvaart vir die land en al sy inwoners.
Dit sal nooit gebeur onder die ANC nie. Suid-Afrika kan net gered word deur van die huidige regering ontslae te raak en ʼn koalisieregering in sy plek te stel wat in staat is om die land te herstel en te bou. Die VF Plus sal deel wees van hierdie regering.