Die besluit van pres. Cyril Ramaphosa om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te onderteken, wys hoe desperaat die ANC twee weke voor die verkiesing is.
Die regering is bereid om die land se totale gesondheidstelsel op te offer om nog ʼn termyn aan bewind te bly.
Die VF Plus waarsku al jare teen die gevolge van die NGV en sal hom skaar by alle belangegroepe, insluitende politieke partye en ʼn wye groepering burgerlike organisasies en mediese kundiges wat bereid is om die NGV tot in die Grondwethof te beveg.
Die NGV is ʼn onrealistiese droom waarmee die ANC die illusie wil skep van wêreldklas-gesondheidsorg vir elke persoon in Suid-Afrika.
Dit is nie moontlik nie. Die land se totale gesondheidstelsel sal uiteindelik in duie stort net soos Eskom en al die ander staatsentiteite waaraan die ANC geraak het.
Eindelik gaan daar feitlik niks vir niemand oorbly nie en gehalte mediese sorg sal onkoopbaar raak. Diegene wat dit wel kan bekostig, sal oorsee moet gaan om lewensnoodsaaklike behandeling te ontvang.
Om vir miljoene werklose kiesers ʼn onuitvoerbare belofte te maak om hul stemme te kry, al is dit ook hoe vernietigend vir die land in die geheel, wys dat die ANC-regering moreel bankrot geraak het.
In die VF Plus se Verkiesingsmanifes 2024 wys die party daarop dat Suid-Afrika reeds worstel met ʼn openbare gesondheidsektor wat in duie gestort het. Aan die ander kant is die private gesondheidsektor van wêreldstandaard, maar duur en vir baie ontoeganklik.
Die VF Plus is daarvan oortuig dat die struikelblok in openbare gesondheid nie ʼn gebrek aan geld is nie, maar aan kundigheid en goeie bestuur. Wanbestuur en korrupsie het openbare gesondheidsorginstellings vernietig.
Die obsessie met transformasie beteken dat kundigheid steeds uitgedryf word – sodanig dat duisende gesondheidslui van Suid-Afrika in die buiteland werk.
Die huidige NGV-wetsontwerp is volgens die VF Plus ongrondwetlik. In besonder is die sogenaamde behoeftesertifikate ongrondwetlik aangesien dit beoog om aan medici voor te skryf waar hulle mag praktiseer.
Die ANC se NGV-plan is slegs ʼn verkiesingsfoefie en nie implementeerbaar nie aangesien daar nie genoeg staatsfondse daarvoor beskikbaar is nie.
Benewens ʼn hofstryd om die wet te stuit, het Suid-Afrikaners oor twee weke die geleentheid om die land te red deur by die stembus van die ANC ontslae te raak.