Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Werk kan nie geskep word met afbrekende ANC-beleid nie

(Debat in parlement: Die rol van nasionale regeringsbeleid in werkskepping en armoedeverligting)

Solank as wat die ANC-regering aan sy gefaalde ideologiese beleidsrigtings soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) vasklou, sal die regering geen bydrae lewer tot werkskepping en armoedeverligting nie.

Dit is boonop nie die werk van die regering om werk te skep nie, dit is die werk van die privaatsektor. Die regering moet met beleid en bestuur die grondslag te lê vir ekonomiese vooruitgang waaruit werkskepping voortvloei.

Alhoewel Suid-Afrika een van die grootste ekonomieë in Afrika het, ryk is aan natuurlike hulpbronne met geleenthede, mensekapitaal en burgers wat die vermoë het om die ergste omstandighede te bowe te kom, is Suid-Afrika een van die mees ongelyke lande ter wêreld.

ʼn Land soos Taiwan, wat oor byna geen natuurlike hulpbronne beskik nie en bykans alles invoer wat hy benodig, se werkloosheidskoers is minder as 4%. Suid-Afrika met alles tot sy beskikking, steek sleg daarteen af met ʼn werkloosheidskoers van 31,9%.

Dit kan net op die ANC-regering se brood gesmeer word wat weier om ter wille van die mense van Suid-Afrika afstand te doen van uitgediende ideologieë wat absurde, ondeurdagte en ekonomies-skadelike beleid en wetgewing tot gevolg het.

Ná 30 jaar het die ANC steeds nie geleer dat die regering nie die Suid-Afrikaanse samelewing deur transformasie en diversiteit kan reguleer nie en dat dit net nog meer verdeeldheid in die land skep. Meriete moet die maatstaf wees.

Solank as wat die ANC skuil agter die rassekaart en apartheid wanneer RA en SEB gekritiseer word, sal Suid-Afrika nie ekonomies vooruitgaan nie.

Beleid soos RA en SEB word net gebruik om kaderontplooiing moontlik te maak en ʼn sekere groepie ANC-kaders te verryk. Dit maak nie die ekonomiese speelveld gelyk vir miljoene werklose en verarmde Suid-Afrikaners nie.

Die onderwysstelsel onder die ANC-regering lewer ook nie die vaardighede wat die arbeidsmark vereis nie.

Maar eerder as om in behoorlike skole-infrastruktuur te belê en sukkelende landelike skole op te hef, kies die ANC om met wetgewings soos die Bela-wetsontwerp die onderwysstelsel verder te vernietig.

Ekonomiese vooruitgang sal ook nie plaasvind terwyl die ANC homself deurentyd met die muishonde van die wêreld vereenselwig en internasionale betrekkinge in die wiele ry nie.

Dit sal nie gebeur terwyl die ANC plaaslike regering op ‘n daaglikse grondslag deur onbevoegdheid, bedrog en korrupsie vernietig nie.

Dit sal tewens nie gebeur terwyl die ANC die regering van die land is nie.

Die tyd het aangebreek om die ANC te onttroon as regering en te vervang met ʼn koalisieregering wat die belange van alle Suid-Afrikaners vooropstel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.