(Debat in parlement: Versterking van die landbou- en pluimveesektor as ʼn katalisator vir ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika)
Ten spyte van die groot bydrae van die landbousektor tot die Suid-Afrikaanse ekonomie, behandel die ANC-regering dié bedryf soos ʼn ongewenste kind.
Die landboudepartement se onvermoë om boere by te staan met die nodige entstowwe teen voorkombare siektes, kwynende munisipale dienste, korrupsie, die ineenstorting van paaie, spoornetwerke en hawens dra by tot verhoogde insetkoste en strem verdere uitbreiding van landboubedrywighede.
Indien boere nie nodig het om self te betaal vir die herstel van paaie en ander infrastruktuur wat die staat se verantwoordelikheid is nie, kon daardie fondse aangewend gewees het tot voordeel van die plaaslike gemeenskappe en die land.
Verder dra beleidsonsekerheid en faktore soos eiendomsregte, onwettige besettings, grondgrype, plaasaanvalle, plaasmoorde en toegang tot markte ook by tot die gebrek aan nuwe beleggings in die landbousektor.
Suid-Afrika het een van die grootste landbou-ekonomieë in Afrika. Dit is nie net belangrik vir voedselsekerheid nie, maar ook as ekonomiese dryfveer.
Landbou is verder ʼn belangrike verskaffer van werksgeleenthede, veral in plattelandse gebiede en dra sowat 2,5% by tot die land se bruto binnelandse produk (BBP).
In 2020 het die landbousektor met 13% gegroei ten spyte van die ANC-regering se aanslae op dié sektor.
Die pluimveebedryf is byvoorbeeld die grootste bydraer tot die landbousektor in die land. In 2020 het die sektor 18% tot die totale waarde van landbou en 41% van die totale diereproduksie van die land bygedra.
Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het die braaihoenderbedryf se bruto waarde toegeneem tot R59 miljard in 2022 teenoor R47 miljard in 2019, terwyl die bruto waarde van die lêbedryf gegroei het van R10,6 miljard in 2019 tot R12,6 miljard teen die einde van 2022.
Ten spyte hiervan weier die regering om dié bedryf by te staan met die jongste uitbraak van voëlgriep in die land.
Die landbousektor beskik oor al die potensiaal om as katalisator vir ekonomiese groei op te tree, maar dan sal die regering sy kant moet bring.
Dit sal egter nie onder ʼn ANC-regering gebeur nie.
Die enigste oplossing is om in 2024 van die ANC-regering ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Onder so ʼn koalisieregering sal die landboubedryf kan optree as katalisator vir ekonomies groei en vooruitgang.