(Parlementsdebat: Watervoorsieningskrisis in Suid-Afrika)
Die Griekse mitologie vertel van koning Midas wat alles waaraan hy raak in goud laat verander. Met Suid-Afrika se ANC-regering is dit net die teenoorgestelde. Alles waaraan hy raak, gaan ten gronde.
Terwyl reuse uitdagings oor waterverskaffing die regering die afgelope dekades in die gesig gestaar het, het hy skaars daaraan geslaag om enkele krane in agtergeblewe gemeenskappe te installeer.
Van die bestuur van bestaande waterbronne, instandhouding en toekomsbeplanning was daar weinig sprake.
Vandag het dit in ʼn krisis ontaard wat soos krag en elke ander probleem in die land, nie langer weggeredeneer kan word nie. Die ANC-koning is nakend. Die gewaande kleed van apartheid wat al sy gebreke moes bedek, bestaan nie meer nie.
Om sake te vererger het faktore soos bevolkingsgroei, verstedeliking en klimaatsverandering groeiende druk op waterinfrastruktuur geplaas. Intussen het die probleem ʼn krisis geraak en die krisis stuur af op ʼn ramp. Die ANC is bloot te onbeholpe om iets daaraan te doen.
Wanbestuur en korrupsie binne die watersektor het die regering se enkele pogings om die krisis aan te pak, ondermyn.
Hiermee saam het erge droogtes oor die laaste jare groot druk op bestaande waterbronne geplaas terwyl die skaarser bronne toenemend besoedel word – weereens vanweë ʼn onbevoegde regering.
Klimaatsverandering vererger hierdie kwessie en droogtes sal net meer gereeld en intenser raak in die afsienbare toekoms.
Die gebrek aan behoorlike infrastruktuur vir waterberging asook die behandeling en verspreiding van water dra by tot die krisis. Verouderende pype, lekkasies en onvoldoende bergingsgeriewe lei tot aansienlike waterverliese.
Die vinnige bevolkingsgroei en verstedeliking plaas geweldige druk op bestaande waterbronne en infrastruktuur. Die verhoogde vraag na water oorskry toenemend die aanbod. Die water raak letterlik op.
Die gevolge hiervan is reeds duidelik. Een daarvan is gesondheidsrisiko’s van wateroordraagbare siektes soos cholera, tifus en diarree.
Die ekonomiese impak van watertekorte begin ook duidelik wys. Nywerhede, landbou en toerisme, is sterk van water afhanklik.
Die moontlike oplossings is voor die hand liggend: Beplanning rondom infrastruktuurontwikkeling en instandhouding is die wese daarvan.
Waterbesparing moet aangemoedig word en alternatiewe waterbronne soos ontsouting, reënwater en afvalwaterbehandeling moet ontsluit word.
Bogenoemde beklemtoon die behoefte aan beter bestuur en beplanning om volhoubare waterbestuur in Suid-Afrika te verseker. Die beste voorstelle moontlik om die probleme op te los sal egter niks beteken solank as wat die ANC regeer nie.