Die VF Plus is bekommerd oor die onaanvaarbare situasie waarin inwoners van Eskom-voorsiende gebiede in die Stad Kaapstad hulself bevind met gereelde en langdurige kragonderbrekings.
Die party ontvang daagliks versoeke om hulp van inwoners, wat selfs vir maande sonder elektrisiteit is.
Delft, Blue Downs, Malibu, Eersterivier, Elsiesrivier en Bishop Lavis is van die gebiede wat die ergste geraak word. Vir talle gesinne, wat reeds onder geweldige finansiële druk verkeer, beteken dit voedsel wat bederf, mediese voorraad wat verlore gaan en daaglikse ontberings.
Een van die mees aangrypende gevalle waarmee die VF Plus onlangs gehelp het, was dié van ’n gesin in Blue Downs met ’n kind met spesiale behoeftes wat afhanklik is van ’n mediese asemhalingstoestel. Ná volgehoue opvolgwerk en herhaalde kommunikasie met Eskom se bestuur, is tegnici eindelik uitgestuur om die kragtoevoer te herstel.
Hierdie is nie ’n nuwe probleem nie. Die VF Plus is reeds geruime tyd aan die voorpunt van dié stryd om ’n volhoubare oplossing te vind en het herhaaldelik beroepe op die Stad Kaapstad gedoen om die oordrag van Eskom-voorsiende gebiede na die stad se energiedirektoraat te bewerkstellig.
Sedertdien het die situasie verder versleg, met kragonderbrekings wat meer gereeld voorkom en langer duur.
Die party het enkele maande gelede in ‘n raadsvergadering die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, die stadsbestuurder, Lungelo Mbandazayo, en die bestuur van die energiedirektoraat versoek om daadwerklik hieroor op te tree.
‘n Versoek is gerig dat die stad ’n interregeringsgeskil met die nasionale regering verklaar om die proses te bespoedig.
Intussen betaal duisende gesinne die prys vir ’n stelsel wat hulle in die steek laat.
Die party sal nie hierdie saak laat vaar nie en sal voortgaan om inwoners van Eskom-voorsiende gebiede by te staan en sal die druk op die uitvoerende bestuur verhoog om die oordrag van die oorblywende 25% van Eskom-voorsiende gebiede na die Stad Kaapstad te bespoedig.
Die inwoners van Kaapstad verdien betroubare elektrisiteitsvoorsiening en ’n regering wat daadwerklik optree wanneer nood ontstaan.


