Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op die polisie se misdaadvoorkomingseenheid in Malmesbury om toe te sien dat die dorp se inwoners veilig is deur sigbaar te wees in die woonbuurte en voorkomend op te tree.
Verskeie bendeverwante voorvalle het die afgelope paar weke ‘n aantal lewens geëis. In die jongste skietvoorval Sondagoggend (12 Julie) is tien mense in ‘n skietery gewond en twee is oorlede.
‘n Driejarige kind is in die Rooi Kruis-hospitaal in Kaapstad met ‘n gesigwond opgeneem, terwyl sewe ander na hospitale in Kaapstad oorgeplaas is.
Hierdie voorvalle van geweld is besig om handuit te ruk. Inwoners leef in vrees en alle rolspelers word gevra om in te gryp en te help om misdaad te voorkom.
Dit is elke persoon se reg om in ‘n veilige en gesonde omgewing te woon en te werk. Die vraag is hoeveel onskuldige mense moet nog sterf voordat dié situasie ernstig opgeneem word.
Meer hulp en bystand moet in die betrokke gebiede ontplooi word om gereeld voorkomingsaksies uit te voer aangesien hierdie gebied geteister word deur territoriale bendegeweld.
Die VF Plus se hart gaan uit na die families wat deur hierdie verliese geraak is. Die party sal
aanhou veg om die regte van alle inwoners te beskerm en woonbuurte te beveilig. Dit is nodig dat almal hande vat om dit te laat realiseer.


