Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tragedie in Lynnwoodweg ná Loftus-skouspel betreur

Die VF Plus betreur die tragedie wat Saterdagaand, ná die Springbokke se wedstryd teen Skotland by Loftus Versfeld, in Lynnwoodweg, Pretoria plaasgevind het. ’n Rugbytoeskouer wat klaarblyklik op pad terug na sy voertuig was, het in ’n diep uitgrawing op die sypaadjie voor die Javet-kunssentrum geval en aan sy ernstige beserings beswyk.

Die ongeluk het plaasgevind terwyl duisende toeskouers ná die wedstryd deur die konstruksiegebied gestroom het. Hoewel die betrokke deel van Lynnwoodweg vir verkeer gesluit is, is dit steeds vir voetgangers oopgelaat. Die uitgrawings, wat op sekere plekke vier tot vyf meter diep is, was nie behoorlik afgesper nie.

Vroeë aanduidings is dat die slagoffer ernstige hoofbeserings opgedoen het. Dokters op die toneel het hom probeer stabiliseer, maar volgens berigte op sosiale media het hy kort daarna beswyk.

Die polisie het intussen bevestig dat ’n ondersoek na die man se dood aan die gang is.

Twee ander toeskouers het ook in die sloot beland. Een is met gebreekte ribbes in ’n hospitaal behandel, terwyl die ander gelukkig ongedeerd is.

Die VF Plus het vanoggend die toneel self besoek en gevind dat die uitgrawings nie behoorlik afgebaken of gemerk is nie.

Willie Spies het sy dienste as prokureur pro bono aan die slagoffer se naasbestaandes aangebied om ’n eis teen die Tshwane-metro in te dien weens nalatigheid.

Die konstruksiewerk in Lynnwoodweg sleep al jare aan en is vertraag weens tenderonreëlmatighede. Hierdie wanbestuur het nou tragies tot lewensverlies gelei.

Die VF Plus sal alles in die stryd werp om op 4 November die onbevoegde ActionSA/ANC/EFF-regering tot ʼn val te bring.

Die VF Plus betuig ook sy innige meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.