Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van huidige en voormalige senior amptenare van die Ekurhuleni-metro op aanklagte van bedrog, korrupsie en die belemmering van die regspleging.
Die amptenare sluit in die adjunkhoof van die metropolisie, Julius Mkhwanazi, die regshoof Kemi Behari en die menslikehulpbronhoof Linda Gxasheka. Al drie is reeds vroeër geskors.
Saam met hulle is die voormalige stadsbestuurder Imogen Mashazi ook in hegtenis geneem.
Vir te lank al dra inwoners van Ekurhuleni die gevolge van korrupsie en die misbruik van openbare fondse. Hoewel die inhegtenisnemings nie ’n skuldigbevinding is nie, stuur dit ’n belangrike boodskap dat niemand bo die reg verhewe is nie en dat ernstige bewerings deeglik ondersoek en deur die howe aangehoor moet word.
Die VF Plus vertrou dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) die saak sonder vrees of guns sal hanteer. Geregtigheid moet nie net geskied nie, maar ook sigbaar geskied.
Hierdie inhegtenisnemings dien as ’n duidelike waarskuwing aan alle openbare ampsdraers dat die misbruik van openbare fondse en die verraad van belastingbetalers gevolge sal hê.
Die tyd waar mense gedink het hulle kan straffeloos wegkom met misdaad soos korrupsie, moet nou eindig.
Die VF Plus bly daartoe verbind om groter deursigtigheid, aanspreeklikheid en etiese bestuur in Ekurhuleni te bevorder. Inwoners verdien ’n munisipaliteit wat met eerlikheid en integriteit dien.


