Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Welverdiend sonder krag en water

Inwoners van Welverdiend in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) sal more (29 Julie) presies ʼn maand sonder krag sit en intussen het hul krane ook nou opgedroog.

ʼn Watertoevoerpyp vanaf Rand Water na Merafong het verlede Donderdag gebars en die reservoirs het begin leegloop.

Die waterpyp is herstel, maar omdat Rand Water in Februarie die watertoevoer met 20% verminder het, neem dit langer vir reservoirs om op te vul.

Groot gedeeltes van Merafong word hierdeur geraak.

Merafong skuld Rand Water ʼn allemintige R1,3 miljard en die VF Plus is van mening dat dié waterverskaffer moontlik die toevoer verder kan verlaag weens die munisipaliteit se wanbetaling.

Die VF Plus het die munisipaliteit versoek om meer watertrokke na die geraakte gebiede te stuur tot die watervlakke van die reservoirs gestabiliseer het.

Die transformator van die Frikkie van der Merwe-substasie is ook steeds nie herstel nie selfs ná die VF Plus se versoek om ingryping van die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamabolo.

Dit blyk uit ʼn berig in Maroela Media dat sewe mense in Welverdiend oorlede is gedurende die langdurige kragonderbreking. Een so inwoner is mnr. Sakkie Breytenbach wat vir meer as agt jaar van ʼn suurstofmasjien afhanklik was. Tydens die kragonderbreking het hy na sonkrag oorgeskakel, maar is op 6 Julie oorlede nadat die stelsel onklaar geraak het.

Baie inwoners in Welverdiend het nie geld om ʼn kragopwekker aan te skaf of van alternatiewe bronne gebruik te maak om byvoorbeeld kos te berei nie.

Die VF Plus neem Merafong direk kwalik vir die situasie weens sy onvermoë om behoorlike dienste aan inwoners te verskaf. Inwoners van Welverdiend kan nie langer gestraf word vir die ANC se wanbestuur nie.

Die VF Plus sal nie ophou om die munisipale bestuurder, Dumisani Mabuza, dag en nag te skakel om die krisis op te los nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.