Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Welverdiend in Carletonville weer sonder krag

Inwoners van Welverdiend in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) sit reeds drie dae lank sonder krag nadat ‘n oorhoofse Eskom-kragkabel vermoedelik deur weerlig beskadig is.

Dié kabel voorsien krag aan die Frikkie-substasie in Welverdiend.

Ten spyte van navrae kon Eskom nog nie bevestig wanneer die kragvoorsiening herstel sal word nie.

Dit is nie die eerste keer dat Welverdiend sulke langdurige onderbrekings ervaar nie. Verlede jaar was inwoners vir meer as twee maande sonder krag weens transformatorprobleme by dieselfde substasie. Die munisipaliteit het toe lank voete gesleep met die herstelwerk.

Krag- en wateronderbrekings is nie geïsoleerde gevalle in Merafong nie.

Sedert Sondag het inwoners ook waterprobleme ondervind. Dié probleem is intussen opgelos, maar die munisipaliteit het aangedui dat watervoorsiening aan Merafong om 18:00 vir sowat agt ure gestaak gaan word weens instandhoudingswerk.

Die VF Plus het reeds geskryf aan die burgemeester, Nozuko Best, met die versoek om die volle omvang van die kragonderbreking vas te stel, maar tot dusver was daar geen reaksie nie.

Die VF Plus sal sy oorsigrol in die raad nie versaak nie en sal aanhoudende druk uitoefen op die munisipaliteit én Eskom om diensleweringsprobleme binne ‘n redelike tyd op te los sodat inwoners nie onnodige lang onderbrekings hoef te verduur nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.