Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun ooreenkoms wat Germiston-gholfbaan sal bevoordeel

Die VF Plus steun ‘n voorgestelde huurkontrak van dertig jaar vir die Germiston-gholfbaan omdat die Ekurhuleni-metro dit nie meer kan bekostig om nóg ‘n munisipale gerief te verloor weens verwaarlosing, verval en swak bestuur nie.

Om die Germiston-gholfbaan, wat sowat vier-en-sewentig hektaar strategiese munisipale grond beslaan, onbenut te laat of op ‘n maandelikse grondslag te bedryf, sou roekeloos en onverantwoordelik wees.

‘n Gestruktureerde dertig jaar-huurkontrak, wat aan kapitaalbelegging gekoppel is, sal stabiliteit skep en die eiendom beskerm, terwyl dit die deur oopmaak vir betekenisvolle plaaslike ekonomiese aktiwiteit.

Die VF Plus se steun van só ‘n ooreenkoms beteken nie dat dit ‘n blanko tjek is nie, aangesien daar toegesien moet word dat die metro se belange te alle tye beskerm word en dat nie net sekere partye bevoordeel word nie.

Die VF Plus het herhaaldelik sy kommer in toesigkomitees uitgespreek oor die groeiende aantal munisipale eiendomme wat óf leeg staan, óf beskadig en finansieel onvolhoubaar is.

Oor die afgelope paar jaar het inwoners gesien hoe waardevolle openbare bates toegelaat is om tot niet te gaan. Die Brakpan-rolbalbaan, die Brakpan-kegelbalbaan, die ou Brakpan-biblioteek en die Terenure-oefenbof staan as pynlike herinneringe aan wat gebeur wanneer leierskap nie daarin slaag om gemeenskapsinfrastruktuur te beskerm nie.

Die VF Plus sal voortgaan om sy toesigrol te vertolk en om seker te maak dat ‘n huurooreenkoms vir die Germiston-gholfbaan Ekurhuleni versterk, eerder as om nóg ‘n regeringsmislukking te word.

Ekurhuleni verdien leierskap wat die inwoners se belange en eiendom beskerm. Die era van toekyk hoe openbare bates tot niet gaan, moet tot ‘n einde kom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.