Die aansuiweringsbegroting van die Ekurhuleni-metro wat vandag goedgekeur is, is nie genoeg om die ernstige diensleweringsprobleme in die metro op te los nie.
Die VF Plus kon die begroting nie steun nie weens swak finansiële dissipline en te min fokus op infrastruktuurverbetering. Dit beteken aanhoudende kragonderbrekings, slegte paaie en stadige reaksie op diensleweringsklagtes.
Die metro se bedryfsinkomste is nou sowat R66,3 miljard, met uitgawes rondom R65,6 miljard.
Sleutelaanpassings sluit in:
• Energie: +R113 miljoen uit die stedelike ontwikkelingsfonds vir verouderde infrastruktuur.
• Water en sanitasie: Kapitaalbegroting styg van R565,6 miljoen tot sowat R603 miljoen (+R38 miljoen), plus R2 miljoen ekstra vir instandhouding. Die geld gaan onder meer na die herstel van waterlekkasies en die installering van waterbeperkingmeters op agterstallige rekeninge.
• Paaie en vervoer: Kapitaalbegroting styg van R820,75 miljoen tot R901 miljoen (+R80 miljoen), met R262,5 miljoen vir padrehabilitasie en R12,5 miljoen vir verkeerinfrastruktuur. Die spoorweghawensprojekte is met R195 miljoen verminder om dit te finansier.
Die VF Plus bly diep bekommerd oor die metro se finansiële volhoubaarheid. Werknemerkoste bly bo R13 miljard, skuldwaardevermindering neem toe (wat op swak invordering dui), en die groeiende skuld aan Eskom vir elektrisiteit plaas swaar druk op kontantvloei, tariewe en infrastruktuuronderhoud.
Oortyd-uitgawes word ook bevraagteken ná ‘n 2025/26-toesigverslag wat swak beheer en doeltreffendheidsprobleme uitgelig het.
Inwoners betaal belasting met die verwagting van betroubare dienste, doeltreffende bestuur en verantwoordelikheid en nie herhaalde aansuiwerings sonder werklike verbetering nie.
Die VF Plus kan nie die aansuiweringsbegroting steun bloot uit vrees om die R124 miljoen stedelike ontwikkeling toekenning te verloor nie, veral waar die algehele aanpassings nie werklik betekenisvolle dienslewering bevorder of die breër gemeenskap bevoordeel nie.
Die VF Plus sal aanhou om streng toesig te hou, beter projekbestuur te eis en groter aanspreeklikheid af te dwing.


