Magalieswater het vandag tydens ʼn voorlegging aan die nasionale raad van provinsie (NRP), erken dat die talle vertragings in die voltooiing van ʼn watervoorsieningsprojek in Madibeng (Brits, Hartbeespoort en Mooinooi), onder meer te wyte is aan die gereelde wanbetaling van kontrakteurs deur die departement van water en sanitasie (DWS).
Die projek sloer reeds tien jaar en R845 miljoen rand is reeds bestee. Sandile Mkhize, die hoof uitvoerende beampte (HUB) van Magalieswater, het verder aangedui dat selfs indien die projek suksesvol afgehandel word in 2024, die voorsiening van gehalte skoon water steeds nie verseker is nie weens die vervalle stand van riool-watersuiweringswerke in die gebied.
Om die kroon te span op hierdie reeds benarde situasie, blyk dit ook dat die waterverspreidingsnetwerke na huishoudings in hierdie tydperk ook nie uitgebrei en opgegradeer is nie.
Dus, indien alles vlot verloop en die watersuiwering ook onder beheer gebring is, sal die water nie na die inwoners herlei kan word nie. Tienduisende mense in die Madibeng gebied sal steeds sonder skoon lopende water sit. Dit is skandelik.
Hierdie mislukking is tipies van die onbekwaamheid en algemene wanbestuur wat heers onder die ANC-regering.
Die inwoners van Madibeng moet nou die wrange vrugte pluk van ʼn ANC-regering wat sy eie belange voorop stel ten koste van inwoners en belastingbetalers.
Noordwes verdien beter as die ANC.