(Parlementsdebat: Stigting van ʼn ad hoc-komitee oor die kommerwekkende toename in die aantal aanvalle en moorde op boere en plaaswerkers)
Daar is vele redes om die voorkoms van plaasaanvalle op die parlementêre agenda te plaas. Enkele hiervan is die kardinale rol van die landbousektor tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) en werkskepping.
Die heel belangrikste egter is die mense wat in die aanvalle vermoor en beseer word.
Wat die BBP aanbetref, het die landbousektor se bydrae in die laaste finansiële jaar R140 miljard beloop terwyl die aantal werksgeleenthede in dieselfde tyd toegeneem van 834 000 tot 880 000. Teen Junie hierdie jaar was daar reeds 894 000 poste in dié sektor.
Baie van die werknemers woon op plase waar daar ook na hul gesinne se welstand omgesien word. Met die veronderstelling dat elke werker ʼn gesin van vier onderhou, beteken dit dat landbou vir bykans 4 miljoen mense sorg.
Landbou speel ʼn onmisbare rol in elke Suid-Afrikaner se lewe. Van die oggendkoffie en ontbyt is elke mens afhanklik van boere om kos op die tafel te plaas.
President Nelson Mandela het in 1994 reeds die belangrikheid van die sektor raakgesien asook die noodsaaklikheid daarvan om na die land se boere om te sien.
Talle planne is ontwikkel om hiervoor voorsiening te maak, soos die polisie se strategiese landelike misdaadvoorkomingstrategie in 2012 wat in 2018 aangepas is.
Planne op papier wat nie uitgevoer word, beteken egter niks. Dit is net lippetaal.
ʼn Deel van die strategie sou onder meer behels dat hommeltuie ingespan word om te help met landelike beveiliging. Dit het glad nie gebeur nie. Hommeltuie is wel aangekoop, maar die polisie gebruik dit vir ander doeleindes.
Die boere van Suid-Afrika is onder beleg. Wanneer boere hul plaas verlaat en terugkeer, moet hulle altyd voorbereid wees op ʼn hinderlaag. Daarby laat die regering hulle in vele opsigte in die steek.
Benewens stygende produksiekoste, brandstofpryse en salarisse, leef boere saam met die voortdurende bedreiging van aanvalle en moet hulle hulself teen groot koste hierteen beveilig.
Die wreedheid wat met aanvalle gepaard gaan wat boere en hul werknemers aanbetref, wys ook duidelik dat die meeste aanvalle nie gewone misdaad is nie. Gewone misdadigers sal nie hul slagoffers martel nie. Hulle sal vat wat hulle wil en vlug.
Die lede van die parlement het die verantwoordelikheid om op te tree in die belang van boere en voedselsekerheid. Boere kan nie langer aan hul eie lot oorgelaat word nie.
Die VF Plus versoek daarom die parlement om ʼn ad hoc-komitee saam te stel om ʼn behoorlike ondersoek te doen na plaasaanvalle en -moorde. Boere hou die ekonomie aan die gang en sorg dat elke Suid-Afrikaner kos op die tafel het.