’n Munisipale watertenkwa met ’n vervangingswaarde van tussen R1,6- en R2 miljoen, het spoorloos uit die vloot van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) verdwyn.
Tot vandag toe is daar geen duidelike antwoord oor waar, wanneer of hoe die voertuig gesteel is nie.
Luidens die 2024/25-prestasie-diensleweringsverslag word die verdwyning van die tenkwa erken. Die verslag is egter vaag en onvolledig en daar is geen aanduiding of die tenkwa verseker was, of ’n strafregtelike klagte ingedien is, of wie aanspreeklik gehou gaan word nie.
Die party het aangedring dat antwoorde gegee word of daar voldoende sekuriteit was by die munisipale persele en of die tenkwa toegerus was met ʼn GPS-opsporing apparaat.
Die ironie is skreiend synde daar in dieselfde verslag waarin die verdwyning van ’n tenkwa erken word, die munisipaliteit spog dat twee nuwe tenkwaens aangekoop is.
Intussen bly die vraag onbeantwoord oor hoe ’n voertuig van miljoene rand eenvoudig kan verdwyn sonder dat die raad behoorlik ingelig is.
Watertenkwaens is nie ’n luukse nie. Dit is ’n noodsaaklike lewenslyn vir gemeenskappe wat gereeld watertekorte ervaar.
Die verdwyning van so ’n kritieke hulpbron is ’n harde slag vir inwoners wat daagliks op hierdie diens staatmaak.
Die VF Plus het vrae aan die burgemeester, Lucky Sele, en die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe ondersteuningsdienste, Kholeka Mandyu, gerig om antwoorde aan die raad en gemeenskap te verskaf oor
hoe ’n tenkwa van miljoene rand spoorloos kan verdwyn en watter maatreëls ingestel gaan word om te keer dat dit weer gebeur.


