Die VF Plus het tydens ’n raadsvergadering van die Tshwane-metroraad gewaarsku dat die departement van menslike nedersettings se verslag oor toekenningsbesteding in die 2024/25-finansiële jaar, moontlik die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) oortree.
Die verslag wys dat verskeie projekte ernstig geknou is weens ’n kombinasie van swak kontrakteursprestasie, laat betalings deur die metro, verlate terreine en ’n gebrek aan kapasiteit binne die departement.
Hierdie faktore het saam ’n kettingreaksie veroorsaak wat die vordering van projekte vertraag en die kwaliteit van dienslewering direk ondermyn.
Hierdie probleme het ’n direkte negatiewe uitwerking op dienslewering in Tshwane se mees kwesbare gemeenskappe.
Volgens die MFMA moet alle kontraktuele verpligtinge binne 30 dae nagekom word. Die verslag bevestig dat die metro se laat betalings veroorsaak het dat kontrakteurs werk staak of terreine verlaat.
Dit is ’n duidelike oortreding van die wet wat die metro aan finansiële en regsrisiko’s blootstel.
Verder dui die voortdurende vertragings in verkryging, ontwerpgoedkeurings en kontrakbestuur op ’n gebrek aan deursigtigheid en doeltreffende risikobestuur, soos die MFMA vereis.
Die VF Plus wil beklemtoon dat volle besteding nie gelyk staan aan dienslewering nie. Geld wat uitgegee word, moet tasbare verbeterings bring en nie halfvoltooide infrastruktuur en verlate projekte nie.
Die VF Plus doen ’n beroep op die metro om:
• ’n Volledige MFMA-nakomingsoudit op alle menslike nedersettingsprojekte te doen
• Betalingstydlyne streng af te dwing en amptenare wat die wet oortree, tot verantwoording te roep
• Die departement se kapasiteit te versterk deur die aanstelling van bevoegde projekbestuurders, en
• kwartaalverslae aan die raad te lewer oor alle projekte, insluitend risiko’s, vertragings en regstellende maatreëls.
Die VF Plus bly verbind tot deursigtige, wettige en verantwoordbare bestuur.
Die party verwag dat die Tshwane-administrasie die hoogste standaarde handhaaf sodat toekenningsbesteding werklik omskep word in beter lewensomstandighede vir inwoners.


