Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Chantelle-behuisingsprojek: Van baken van hoop tot R123 miljoen ramp

Die Chantelle-maatskaplike behuisingsprojek in die Akasia-gebied wat in Junie 2022 met groot verwagting van stapel gestuur is, het begin as ʼn baken van hoop, maar het ontaard in ʼn finansiële en administratiewe ramp.

Dié projek, onder bestuur van die Housing Company Tshwane (HCT), was veronderstel om ’n lewensvatbare oplossing te bied vir die groeiende behuisingskrisis en om ’n gemeenskap te bou waar inwoners toegang sou hê tot veilige, bekostigbare akkommodasie.

’n Amptelike verslag wat voor die raad ter tafel gelê is, wys egter op ’n totale ineenstorting van projekbestuur, finansiële toesig en administratiewe bevoegdheid binne die metro.

Luidens die verslag is die kontrakteur wat verantwoordelik was vir die bou van 600 eenhede, meer as R118 miljoen betaal voordat die kontrak op 15 Mei 2024 beëindig is. Tog is slegs 82 dopstrukture voltooi en die totale vordering het op ’n skamele 25% gestaan.

Daarbenewens probeer die metro nou deur middel van litigasie om R4 668 545,20 van die kontrakteur se borg te verhaal vir gebrekkige werk en onbetaalde subkontrakteurs. Dit bring die totale finansiële blootstelling op sowat R123 miljoen te staan

Om dit in perspektief te plaas; met dieselfde bedrag kon die metro bykans 450 HOP-huise opgerig het wat werklik ’n verskil sou maak.

Die verslag wys verder op ernstige administratiewe tekortkominge wat ’n skending van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) verteenwoordig:
• ’n Vertraging van 12 maande in die uitreiking van ’n kritieke sertifikaat wat konstruksie gestop het.
• Laat- of nie-betaling deur die metro, wat die kontrakteur genoop het om werk te staak.
• Swak toesig en geen ingryping ten spyte van duidelike tekens van onderprestasie.
• Geen befondsing vir die projek in die 2025/26-boekjaar, wat die bouwerk permanent tot stilstand gebring het.

Die VF Plus dring daarop aan dat die administrasie rekenskap gee van die R123 miljoen in openbare fondse wat nou verlore of in gevaar is, sowel as die skending van MFMA-betalingsvereistes.

Die party wil ook weet waarom kontrakteursprestasie nie bestuur is nie, waarom goedkeuringsvertragings die projek lamgelê het en waarom daar nie ’n volledige begroting was nie.

Die Chantelle-projek, wat veronderstel was om ’n gemeenskap te dien en hoop te bring, het ontaard in verraad teenoor inwoners.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen vir volle aanspreeklikheid, gevolgbestuur en ’n deursigtige herstelplan wat die gemeenskap se belange eerste stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.