Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC-beheerde Dawid Kruiper-munisipaliteit minag die Grondwet – VF Plus dien strafregtelike klag in

Die VF Plus neem met groot kommer daarvan kennis dat die uitvoerende burgemeester van die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit, David Kazi, die land se Grondwet en ander wetgewing minag deur ʼn geskeduleerde oorsigbesoek na die voortslepende waterkrisis in Upington te weier.

Dié optrede volg op ’n formele versoek van VF Plus-raadslid, Hennie Roux, om die gebied te besoek ná volgehoue klagtes oor wateronderbrekings, verval van infrastruktuur en gebrekkige dienslewering.

Tydens ʼn vergadering met die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, die speaker, me. Melani Dodds, en die uitvoerende burgemeester, het Kazi ontken dat hy kennis van die oorsigbesoek ontvang het. Dit is ten spyte van ’n formele kennisgewing wat op Woensdag 4 Februarie per e-pos aan al drie beteken is.

Die VF Plus-LPW en voorsitter van die staande komitee vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (COGHSTA), Theo Joubert, het die burgemeester daarop gewys dat hy sy grondwetlike plig tot oorsig moet nakom.

Verder bepaal die magte, voorregte en immuniteite van die parlement en provinsiale wetgewerswet (Wet nr 4 van 2004) dat LPW’s nie vooraf toestemming hoef te verkry of kennis te gee van oorsigbesoeke nie.

Joubert het verder verwys na die gevestigde gesag van die Grondwethof, dat protokol of politieke magsmisbruik nooit grondwetlike oorsig mag belemmer nie.

Op ʼn direkte vraag of die burgemeester die besoek gaan toelaat, was sy antwoord ʼn ondubbelsinnige nee. Daarna is die vergadering summier verdaag.

Hierdie optrede is opsetlike verhindering van ’n LPW se grondwetlike oorsigrol. As minagting van die Grondwet en nasionale wetgewing is dit ʼn strafregtelike oortreding. Daarom is ’n strafregtelike klag teen die burgemeester, speaker en munisipale bestuurder by die plaaslike polisie ingedien.

Hierdie gedrag bevestig ’n diepgewortelde kultuur van onverantwoordbaarheid en wanbestuur binne ANC-beheerde munisipaliteite. Die VF Plus sal nie toelaat dat die oppergesag van die reg en gemeenskappe se reg op basiese dienste verder vertrap word nie.

Munisipaliteite móét verantwoording doen en die VF Plus sal toesien dat dit gebeur.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.