Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dipaleseng se finansiële krisis hou aan en inwoners betaal die prys

Alhoewel die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit ’n ongekwalifiseerde ouditverslag vir die 2024/25-finansiële jaar ontvang het, is dit geensins ’n rede tot selftevredenheid nie.

Die verslag toon wel ’n geringe verbetering teenoor vorige jare, maar die kernbevindinge van die ouditeur-generaal (OG) en die oudit- en prestasieouditkomitee wys dat die munisipaliteit steeds vasgevang is in ’n ernstige finansiële- en bestuurskrisis.

Die verslag beklemtoon die volgende:

• Finansiële volhoubaarheid in gevaar: Debiteure beloop meer as R1 miljard, waarvan R974 miljoen ouer as 90 dae is. Krediteure staan op R621,8 miljoen, insluitend agterstallige Eskom- en waterrekeninge. Vrugtelose en vermorste uitgawes het in die tweede kwartaal alleen R10,5 miljoen beloop weens laat betalings en rente.
• Swak nakoming van wetgewing: Materiële bevindings oor verkryging- en kontrakbestuur toon afwykings van meer as R1,6 miljoen.
• Lae prestasie op sleutel-aanwysers: Teen die middel van die 2025/26-boekjaar is slegs 63% van teikens bereik, met die departement van infrastruktuurdienste wat besonder swak vaar met net 26%.
• Risiko’s en interne beheertekorte: Onvolhoubare finansies, swak dienslewering, verouderde infrastruktuur en ’n hoë litigasierisiko word as kernbedreigings geïdentifiseer.

Hierdie bevindings bevestig dat die ANC-beheerde munisipaliteit steeds nie in staat is om basiese finansiële bestuur en dienslewering te verseker nie.

Inwoners van Dipaleseng bly die slagoffers van wanbestuur en ’n gebrek aan aanspreeklikheid.

Die VF Plus steun die aanbevelings in die ouditverslag en beklemtoon dat die munisipaliteit dringend ’n praktiese herstelpad moet volg.

Dit sluit in ’n finansiële herstelplan wat fokus op beter inkomste-invordering, kostebesnoeiings en die installering van slim meters om verliese te beperk. Daar moet ook ’n hersiene diensstandaard-handves wees wat, ná konsultasie en opleiding, amptelik goedgekeur word sodat dienslewering duidelik gemeet en verbeter kan word.

Verder is streng kostebeheer noodsaaklik, met oortyd beperk tot noodsaaklike dienste en slegs toegelaat met voorafgoedkeuring van die munisipale bestuurder.

’n Web-gegronde ouditaksieplan moet ook teen Maart 2026 voltooi wees om al die bevindings van die OG en interne tekortkominge aan te spreek.

Dipaleseng kan nie bekostig dat hierdie probleme verder eskaleer nie.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die raad, die uitvoerende burgemeester en die provinsiale regering om volle verantwoordelikheid te neem en daadwerklik op te tree om die munisipaliteit se finansies en dienslewering te herstel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.