Die waterkrisis die afgelope paar dae in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Odendaalsrus, Virginia, Allanridge), waar inwoners se grondwetlike reg tot water geskend is, moet voor die deur van die burgemeester, Nkosenjani Speelman, gelê word.
Die feit dat die munisipaliteit se skuld aan die waterverskaffer tans meer as R3.4 miljard beloop, wys weereens op die ANC se onvermoë om dienste in Matjhabeng te verseker. As uitvoerende burgemeester, is dit Speelman én die ANC se skuld dat inwoners nie water vrylik beskikbaar het nie.
Sedibeng Water, die waterverskaffer aan Matjhabeng; is egter nie ‘n onskuldige party hiertoe nie. Die waterverskaffer het ook ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat agterstallige skuld ingevorder word om hierdie soort krisis te voorkom.
Die VF Plus het versoek dat Sedibeng Water saam met Matjhabeng tydens die nasionale raad van provinsies (NRP) se provinsiale week se oorsigbesoek in die Vrystaat moet aandui hoe oplossings vir dié voortslepende probleem gevind kan word.
Uit ‘n gesprek met die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Thembeni Nxangisa, is dit steeds onduidelik of die munisipaliteit wel ‘n betaling van R9 miljoen aan Sedibeng gemaak het, na Nxangisa dit nie kon bevestig nie.
Dit wil voorkom of Speelman inwoners mislei om gemoedere tydelik te kalmeer.
Inwoners het volle reg om kwaad te wees, omdat dienste in Matjhabeng eenvoudig nie onder ANC-leiding bestaan nie. Water- en rioolinfrastruktuur word slegs met krisisbestuur herstel en die munisipaliteit kan ook nie deeglike finansiële bestuur en beplanning uitvoer nie.
Die VF Plus sal tydens die provinsiale week eis dat die probleem aandag geniet en opgelos word.
Die VF Plus sal ook in die raad eis dat die raadsverteenwoordigers op die Sedibeng-raad moet aandui hoekom hulle nie namens die munisipaliteit en inwoners by die krisis ingetree het om die situasie te ontlont nie.


