Die VF Plus verwelkom die vervolging en inhegtenisneming van mnre. Kgotso Khumalo en Cyril Henry, onderskeidelik die burgemeester en ‘n senior direkteur in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit.
Die Valke het hulle in hegtenis geneem en hulle het vanoggend voor die hof in Potchefstroom verskyn op klagte van bedrog en diefstal ter waarde van honderde duisend rand.
Die VF Plus het herhaaldelik in die verlede versoek dat daar dringend ingegryp word en ondersoek ingestel word na klaarblyklike korrupsie en wanbestuur in hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.
Die party sal voortgaan om druk toe te pas rakende die ondersoek en sal die vordering daarvan monitor om seker te maak dat korrupte politici en amptenare wat verantwoordelik is vir die ontstellende agteruitgang van hierdie eens trotse munisipaliteit, tot verantwoording gebring word.
Dit is noodsaaklik dat al die tersaaklike owerhede hierdie geleentheid aangryp, en weer ‘n professionele en skoon administrasie in JB Marks instel.
Navrae: 076 294 2998