Die departement van landbou het aangedui dat altesame 90 600 hektaar staatsgrond aan die inwoners van Mpumalanga vir verhuring beskikbaar gestel sal word om die grondkwessie aan te spreek en om 'n kompromis vir onteiening sonder vergoeding (OSV) daar te stel.
In 'n verklaring gedateer 1 Oktober 2020, het die minister van landbou en grondsake, Thoko Didiza, aangekondig dat daar in die Mpumalanga-provinsie sowat 90 600 hektaar onbenutte grond is wat verhuur sal word aan persone wat daarvoor kwalifiseer. Net swart-, bruin- en Indiërpersone mag aansoek doen.
Die VF Plus in Mpumalanga verwelkom die beskikbaarstelling van staatsgrond in Mpumalanga, maar sien die kriteria vir aansoekers as teenproduktief, rassisties en in stryd met die land se Grondwet.
Luidens mediaberigte blyk dit ook dat omkopery en korrupsie in die departement daartoe kan lei dat die grond gebruik kan word om die ANC-elite finansieel te bevoordeel en om steun vir die regerende party te werf.
Luidens ‘n onlangse verslag oor opkomende boere in die Pixley Ka Seme-munisipaliteit, wat al ‘n geruime tyd wettiglik op staatseiendom boer, word die boere nou van hierdie staatsplase verdryf omdat hulle weier om omkoopgeld aan staatsamptenare te betaal.
Op ‘n staatsplaas tussen Ermelo en Piet Retief het ‘n opkomende boer aan die VF Plus vertel dat ‘n amptenaar aangedring het op omkoopgeld van R250 000 om die persoon in staat te stel om verder te boer en om verdere hulp van die staat te ontvang.
Die VF Plus sal ‘n skrywe rig aan Vusi Shongwe, Mpumalanga se LUR vir landbou en grond, om 'n volledige ondersoek na die bewerings teen die staatsamptenare te vra.
Die VF Plus in Mpumalanga is van mening dat onteiening sonder vergoeding onnodig is gegewe die staat se besit van grond en dat dié wat reeds deur die staat aangekoop is, funksioneel moet wees om by te dra tot voedselsekerheid.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830


