Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Water wat paaie en huise in “Smartie Town” beskadig: VF Plus dien klag in by Groen Skerpioene

Dit is reeds jare dat stygende grondwater probleme in Kimberley se "Smartie Town"-woongebied wes van die De Beers-woonbuurt veroorsaak. Die VF Plus het vandeesweek met watertoetse vasgestel dat dit nie gesuiwerde water of rioolwater is nie en moontlik van 'n ander bron in die omgewing is weens onwettige storting.

Die VF Plus het vandag die saak aan die Groen Skerpioene oorhandig vir ondersoek.

"Smartie Town" is 'n aantreklike laekoste-woonbuurt wes van De Beers. Die voorkoms herinner aan die Bo-Kaap met eenvoudige gewels en veelkleurige verf.

Verblyf in dié woonbuurt word egter reeds vir jare deur die oormatige teenwoordigheid van grondwater, wat tot by die oppervlak opstoot, bederf. Dit beskadig paaie en huise terwyl dit ook verdere uitbreiding kortwiek.

Tydens werwing vir die munisipale tussenverkiesing in Sol Plaatje se wyk 21, waarin die gebied val, het hierdie deurdrenkte grond die VF Plus opgeval.

'n Klagte is ook van die eienaar van 'n woonwapark in die omgewing ontvang vir wie dit bykans onmoontlik raak om sy besigheid in die omgewing te bedryf.

Sommige inwoners het vanselfsprekend aanvaar dat die oorsaak van die probleem munisipale waterlekkasies is. Dit is bekend dat Sol Plaatje van slegs sowat 40% van die water wat dit onttrek, rekenskap kan gee.

Die VF Plus het die water stroomop gevolg en gevind dat daar geen munisipale aanleg in dié rigting is waar die water vandaan kan kom nie.

Watermonsters is in die veld geneem, asook vanuit die munisipale waternetwerk. Laboratoriumtoetse dui aan dat die water in die veld nie aan die munisipale waterstelsel verbind kan word nie.

'n Verdere bron tot kommer is dat die water 'n laer pH het as die norm vir boorgate in die omgewing en dat hoë swaelvlakke waarskuwingsligte laat aangaan.

Voor die toetse gedoen is, het die VF Plus met die omgewingsbeampte van 'n nabygeleë myn in aanraking gekom om 'n afspraak te maak om die saak te bespreek. Dit het nog nie gerealiseer nie.

Volgens die VF Plus is hier genoeg getuienis om die sogenaamde Groen Skerpioene te versoek om die saak verder te ondersoek.

Die party wil nie vingers in enige rigting wys nie, maar glo dat hierdie instelling die magtiging en kennis het om die saak te ondersoek.

Uiteindelik is dit belangrik dat gewone mense se eiendom beskerm word en dat alle afvalwater volgens bepalings van die wet hanteer word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.