Die Phumelela-plaaslike munisipaliteit (Vrede, Warden en Memel) se ontoereikende brandbestrydingstoerusting en -vermoë het daartoe gelei dat die Fred Wentzel Primêre Skool in Vrede afgebrand het.
Dié skool is op 16 September 1907 amptelik ingewy. Tydens die inhuldigingsplegtigheid het bekendes soos Sir Hamilton Goold-Adams, destydse goewerneur van die ORC (Vrystaat) vyf bloekombome geplant.
Die brand het omstreeks 03:00 vanoggend uitgebreek, maar die brandweer het eers 06:30 by die toneel opgedaag. Die skoolgebou was toe reeds vernietig.
Boere van die gemeenskap het gepoog om die vuur te help blus.
Die VF Plus beskou die tekort aan brandweerdienste in Phumelela as onaanvaarbaar. Die feit dat brande nie effektief bestry kan word nie, lei tot onnodige lewens- en eiendomsverlies.
Die VF Plus het dié krisis onder die aandag van die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gebring en dring daarop aan dat die provinsiale regering dringend ingryp.
Die inwoners van Phumelela verdien om in ‘n veilige omgewing te leef en werk met toereikende dienslewering.
Phumelela verdien beter as ‘n ANC-regering.