Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Water en krag laat ontevredenheid in Merafong oorkook

Inwoners van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) het vanoggend die strate ingevaar om teen water- en kragverskaffingsprobleme te betoog.

Verkeersvloei by die besige kruising van die N12-hoofweg en die R500 is ook ontwrig nadat tientalle inwoners buitebande aan die brand gesteek en klippe in die pad gepak het.

Die oorsprong van die ongelukkigheid is tweeledig: Talle inwoners sit sonder water nadat Rand Water aan die begin van die maand die watertoevoer na Merafong met 40% gesny het. Dit kom nadat die skuldlas aan dié nutsmaatskappy tot meer as R1.4 miljard opgehoop het. Verdere onderhandelings het vasgeval nadat Rand Water onder meer eers op ‘n betaling van sowat R180 miljoen aandring.

Om dit alles te kroon, sit dele van Welverdiend al vir nege dae sonder elektrisiteit weens twee stukkende transformators – waarvan die een (5MVA) waarskynlik eers teen Dinsdagmiddag herstel sal wees.

Daar is nog geen duidelikheid oor wanneer die tweede transformator (10MVA) weer herstel en in gebruik sal wees nie.

Dié betogings beklemtoon weer die noodsaaklikheid om wetstoepassers van buite die betrokke streke te gebruik om skuldinvorderaars te beveilig, aangesien plaaslike wetstoepassers deur inwoners geteiken word. Die VF Plus eis ook dat daar ernstige gevolge moet wees vir raadslede wat leë beloftes aan inwoners maak oor gratis dienste.

Die VF Plus sal steeds tot op die hoogste vlak veg vir die regte van al die inwoners van Merafong.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.