Renaldo Gouws, bekende sosiale mediapersoonlikheid en voormalige parlementslid van die DA, het sy gewig by die VF Plus ingegooi.
Gouws, ‘n industriële sielkundige, met ‘n groot aanhang op onder meer YouTube, bring wye politieke ervaring en ‘n opregte passie vir gemeenskapswaardes saam met hom.
In sy politieke loopbaan by die DA is hy in 2016 verkies tot raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro en in 2024 tot die Nasionale Vergadering (NV).
Hy het in 2010 sy meestersgraad in industriële sielkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal en werk tans ook as konsultant by ‘n bekende maatskappy om praktiese oplossings vir gemeenskapsontwikkeling te vind.
Gouws se passievolle meelewing met die politieke en maatskaplike situasie in die land het aan hom ‘n aanhang van meer as 400 000 op sy onderskeie sosiale media-platforms besorg waar hy bekend is vir sy kommentaar en ontleding van aktuele kwessies.
Volgens Gouws resoneer die VF Plus se kernwaardes van vryheid, selfbeskikking en die beskerming van minderheidsregte met sy eie oortuigings.
Hy verwelkom daarom die geleentheid om saam met die party te kan werk om ‘n verenigde, voorspoedige Suid-Afrika te help bou waar elke landsburger gelykwaardig kan floreer.
Die VF Plus verwelkom Gouws in sy midde en sien uit daarna om saam met hom te werk.


