Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus deel Ekurhuleni-inwoners se woede oor basiese kragheffing

Die VF Plus deel inwoners van die Ekurhuleni-metro se woede met die metro se implementering van ʼn vaste tarief op krag wat oor die volgende vyf jaar in fases ingestel gaan word.

Die party het reeds in Julie vanjaar tydens die 2025/26-finansiële begroting daarteen gestem en die metro gewaarsku dat hy nie inwoners verder onder finansiële druk kan plaas nie.

Die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, het self in Julie tydens ʼn optog in Tembisa, waar inwoners hul ontevredenheid uitgespreek het teenoor die vaste tarief, onderneem om die kragheffing van R126 wat BTW insluit, te skrap.

Die VF Plus het die burgemeester gewaarsku dat hy nie by magte is om so ʼn besluit te neem nie en dat die munisipale raad en Nersa dit eers moet goedkeur.

Die metro het die afgelope naweek twee openbare deelname-vergaderings in Boksburg en KwaThema aangebied om inwoners se mening hieroor te vra.

Inwoners wat die vergaderings bygewoon het, het hul ontevredenheid daaroor uitgespreek. Hulle is van mening dat die raad die vaste tarief ondersteun en nie na hul wil luister nie.

Volgens die metro se kostevoorsieningstudie en die voorgelegde planne, sal alle huishoudings voortaan ’n vaste maandelikse fooi moet betaal, ongeag hul kragverbruik.

Hierdie heffing is buiten die koste van krageenhede. Selfs gesinne wat min krag gebruik, gaan ekstra moet opdok net om aan die netwerk gekoppel te wees.

Klein ondernemings met driefase-aansluitings sal selfs veel meer betaal wat plaaslike ekonomiese oorlewing ernstig bedreig.

Die VF Plus het die volgende vrae aan die burgemeester gerig:

  1. Waarom moet inwoners ’n vaste maandelikse heffing betaal selfs wanneer hulle min elektrisiteit gebruik?
  2. Hoe kan die stad ’n heffing regverdig wat armes en spaarsamige inwoners net so swaar tref as groot verbruikers?
  3. Waarom moet wetsgehoorsame inwoners opdok vir die koste van swak bestuur, kabeldiefstal en tegniese verliese?
  4. Waarom subsidieer huishoudings straatligte en verkeersligte en nie die metro se operasionele begroting nie?
  5. Is die sogenaamde kostevoorsieningstudie aan die publiek beskikbaar gestel en indien wel, waar kan inwoners dit opspoor?
  6. Indien inwoners hierdie voorstel tydens openbare deelname verwerp, sal die raad en Nersa dit eerbiedig en die basiese kragheffing terugtrek?

Die VF Plus versoek inwoners om hul stem duidelik te laat hoor oor die volgende kernpunte tydens openbare deelname:

• Die onregverdigheid van ’n vaste basiese heffing, ongeag verbruik.
• Die swaar finansiële las op gesinne, bejaardes, jong huishoudings en klein ondernemings.
• Die gebrek aan onderskeid tussen lae verbruikers en grootmaat-verbruikers.
• Eis dat die metro eerder doeltreffend bestuur moet word en korrupsie en kabeldiefstal bekamp.

Die basiese heffing is onregverdig en maak geen voorsiening vir lae verbruikers of armer huishoudings wat nie kwalifiseer as behoeftig nie.

Dit is in werklikheid ’n belasting wat by die agterdeur ingebring is en het niks met beter dienslewering te doen nie.

Tydens ‘n raadslede inligtingsessie op 18 September 2025 het die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi, bevestig dat verdere sessies en lokale beskikbaar gemaak sal word om almal geleentheid te gee om aan die proses deel te neem.

Daar is ook bevestig dat ‘n virtuele openbare deelname-sessies vir 30 September 2025 geskeduleer word. Meer besonderhede sal bekend gemaak word wanneer die kennisgewing van die metro ontvang is.

Die VF Plus sal seker maak dat die gemeenskap se stem nie gesmoor word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.