Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tshwane-metro se finansiële bestuur en dienslewering verkeer in krisis

Die VF Plus het sy ernstige kommer uitgespreek oor die Tshwane-metro se jongste voorsieningskettingverslag vir April tot Junie 2025 waaruit dit duidelik blyk dat die metro se finansiële bestuur en dienslewering in ʼn krisis verkeer.

Luidens die verslag het die metro R284,7 miljoen bestee aan aankope wat nie volgens die voorgeskrewe prosedures gedoen is nie. Hierdie sogenaamde “afwykings” beteken dat goedere en dienste aangekoop is sonder om die vereiste prosesse te volg.

Daarbenewens is ’n bedrag van R550 miljoen op onreëlmatige wyse bestee wat nou ondersoek word. Hierdie fondse was bedoel om dienslewering te verbeter, maar is moontlik vermors.

Projekte wat die metro en sy inwoners moet bevoordeel, soos die herstel van paaie en die vervanging en opgradering van kraginfrastruktuur, word vertraag omdat kontrakte nie binne die wetlike tydperk van 90 dae afgehandel word nie.

In ʼn tydperk van net drie maande is bates ter waarde van R1,39 miljoen gesteel, insluitend toerusting en voertuie, wat dui op ’n gebrek aan behoorlike beskerming van die metro se eiendom.

Boonop word swak kontrakteurs wat nie aan die vereiste standaarde voldoen nie, steeds toegelaat om met die metro sake te doen sonder enige gevolge.

Hierdie probleme het ’n direkte impak op inwoners wat daagliks gebuk gaan onder kragonderbrekings, watertekorte en vervalle paaie en dit terwyl die metro geld vermors en wanbestuur.

Dit is dringend noodsaaklik dat amptenare aanspreeklik gehou en gestraf word indien hulle nie hul pligte nakom soos vereis nie. Kontrakte moet betyds en regverdig toegeken word soos die wet vereis en bedrog en diefstal moet deeglik ondersoek word. Die polisie moet ook betrek word om die gesteelde bates op te spoor.

Die inwoners van die Tshwane-metro betaal ten duurste vir dienste en verdien nie dat hul geld vermors word nie.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen om te verseker dat die metro verantwoordelik optree met belastingbetalersgeld en ordentlike dienste verskaf.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.