Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tshwane-inwoners nie belastingmelkkoeie

Die VF Plus het sterk standpunt ingeneem teen die Tshwane-metro se voorneme om die appèlhof te nader om die omstrede reinigingsheffing van R194.37 per maand (BTW uitgesluit) op inwoners se rekeninge te behou.

Die Pretoria-hooggeregshof het op 31 Julie 2025 teen die heffing beslis in ʼn saak wat AfriForum aanhangig gemaak het.

Die hof het die heffing as onwettig, ongeldig en nietig verklaar. Volgens die uitspraak het die metro nie aan die vereistes van artikel 229 van die Grondwet of artikel 74 van die Munisipale Stelselswet voldoen nie.

Die hof het dit duidelik gestel dat die heffing onregmatige dubbele belasting verteenwoordig, veral vir inwoners van woonkomplekse en landgoedere wat reeds vir private afvaldienste betaal.

Die hof het beveel dat alle rekeninge met die heffingsbedrag gekrediteer moet word in die volgende faktuursiklus en dat die metro dit teen September 2025 moes implementeer.

Tog het die metro die hofbevel geïgnoreer en die heffing steeds op rekeninge gehef.

Op 25 Augustus het die hof die metro se versoek om appèl met koste verwerp. Nou beoog die metro om die appèlhof te nader in ’n stap wat verdere belastinggeld sal verspil op regsgedinge, terwyl daardie fondse eerder vir noodsaaklike dienslewering aangewend kon word.

Die VF Plus was van die begin af gekant teen die heffing en dit was een van die redes waarom die party teen die 2025/26-begroting gestem het.

Die party het ook ʼn versoekskrif geloods om druk op die metro te plaas om die onregmatige heffing nie weer in te stel nie. Die versoekskrif is beskikbaar by: https://forms.gle/oXyASZ6JRq5zTPvL9

Verder het die VF Plus ’n mosie ingedien om die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Obakeng Ramabodu, persoonlik aanspreeklik te hou vir die regskoste.

Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers moet opdok vir hofsake wat die metro herhaaldelik verloor, ondanks duidelike uitsprake van die hof.

Die VF Plus doen ’n ernstige beroep op die Tshwane-metro om die wit vlag te hys, die hof se uitsprake te eerbiedig en die vermorsing van openbare fondse te staak.

Dit is ’n skande dat die metro inwoners se swaarverdiende belastinggeld wil gebruik om ʼn onregmatige heffing te verdedig. ʼn Heffing wat hulle juis benadeel en deur die hof verwerp is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.