Daar is slegs een operasionele brandweerwa vir al ses dorpe in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit, omdat die ander onklaar geraak het weens ‘n gebrek aan instandhouding, het mev. Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit wat Welkom, Ventersburg, Allanridge, Virginia, Odendaalsrus en Hennenman insluit, gesê.
“Ons het die afgelope tyd gesien watter verwoesting ‘n brand kan saai. Dit is ‘n vreesaanjaende gedagte dat daar in so ‘n geval geen redding deur die brandweer gebied sal kan word nie, omdat die munisipaliteit nie eens kan toesien dat ten minste sy nooddienste se voertuie in werkende toestand is en bly nie,” het sy gesê.
Volgens Taljaard is die res van die munisipaliteit se vloot voertuie in ‘n ewe gehawende toestand.
“In sekere dorpe en dele van die munisipaliteit, soos Riebeeckstad by Welkom, Virginia en Odendaalsrus is tot vyf weke gelede laas vullis verwyder en is ‘n reuse gesondheidsrisiko vir die inwoners en skiet die instandhouding van die dorpe se afvoer- en rioolsisteme ver tekort.
“Die ANC het die munisipaliteit van Matjhabeng in die grond in bestuur met kaderontplooiings, wanbestuur en algehele onbevoegdheid. Die mense van Matjhabeng moet nou opstaan teen die regerende party en die behoorlike dienslewering, wat hulle reg is en waarvoor hulle betaal eis,” het sy gesê.
Kontakbesonderhede: 082 886 9945