Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Die verhaal oor ANC-prestasies is ‘n leë boek

Indien ‘n boek geskryf moet word oor die ANC se prestasies sedert dié party aan bewind gekom het, sou dit ‘n leë boek wees sonder enige inhoud, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

Adv. Alberts het met vandag se Eerste Lesingsdebat oor die Begrotingswetsontwerp gesê minister Malusi Gigaba is op die punt om sonder valskerm of reddingstou oor die fiskale afgrond te spring en die land met saam te neem.

“Duidelik is daar nie veel wat mens kan byvoeg tot hierdie leë boek oor die ANC se prestasies nie. Wat die opposisie ook al sê sal in ieder geval nie ernstig opgeneem word nie. Ons kan kom met ernstige bydraes oor ekonomiese ontwikkeling, fiskale beleid en werkskepping vir al die armes in die land. Maar ons het al besef dis ‘n mors van asem.

“Dit bring my dan by nog ‘n boek wat ek ‘n paar jaar gelede ontdek het. Ek het al daarvan vergeet tot ek die wonderlike verduidelikings van die agbare president gehoor het dat die afdanking van ministers Nene en Gordhan nie ‘n effek op die markte gehad het nie; dat in effek die ANC sy hande in onskuld kan was oor die stand van ons ekonomie. Die Gupta-beeldpoetser Bell Pottinger sê dan so, en wie kan daarteen stry?

“Hierdie tweede boek maak dit duidelik dat nie eens die waarheid oor Suid-Afrika se ekonomiese situasie die president en sy meelopers sal laat afsien van die pad van plunder en plesier wat hulle ten koste van Suid-Afrika ingeslaan het nie.

“Wat die ANC en sy president tans doen, herinner aan die gewilde boek ‘On Bulllshit’ van professor Harry Frankfurt van Princeton-Universiteit waarin hy filosofeer dat sulke persone hul hoegenaamd nie aan die waarheid steur nie en veel erger is as gewone leuenaars is wat ten minste besef hul dade staan in stryd met die waarheid.

“Hulle sal bly glo dat wittes die ekonomie beheer al weerspreek die feite dit, hulle glo dat die afdanking van ‘n bevoegde minister van finansies nie die ekonomie skade sal aandoen nie, dat afgradering na rommelstatus nie die gevolg daarvan is nie, en dat al die negatiewe gevolge reggedokter kan word met die magiese idee van radikale ekonomiese transformasie.

“Die tragiese hiervan is dat, ten spyte van al die waarskuwings wat opgaan, selfs dié in die ANC-regering se binnekringe te beterweterig is om te luister. Daarom word ‘n leë boek en prof. Frankfurt se tesis aan hierdie mense gewy en daarom is hulle gedoem om te ervaar wat met soveel ander regerings gebeur het wat gedink het hulle sal vir ewig regeer.

“Hierdie lesse sal vinnig ter harte geneem moet word voordat dit te laat sal wees om te besef pres. Jacob Zuma is bloot die grafskrifskrywer van die ANC,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.