Die VF Plus is bekommerd oor die sloerdery met die ondersoeke na die afsterwe van meer as 94 Esidimeni-pasiënte vroeër vanjaar nadat dit gister in Johannesburg tydens ‘n mediakonferensie aan die lig gekom het dat die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag voete sleep met die ondersoeke.
Die finale dodetal van pasiënte is nog nie bekend gemaak nie. Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, sê dit is onverstaanbaar waarom die ondersoeke sloer.
“Die gesondheidsombudsman het tog al die name van die persone wat vervolg moet word in sy verslag genoem en uitgewys. Daar is geen rede vir die polisie en die NVG om hiermee te sloer nie. Ons kan verstaan as daar na nog skuldiges gesoek moes word maar die beskuldigdes is reeds op ‘n silwer skinkbord oorhandig.”
Van Staden meen daar is families wat in erge rou gedompel is en antwoorde op hul onbeantwoorde vrae soek. Beloftes van vinnige optrede vanaf die minister en die premier van Gauteng het tot dusver nog op niks uitgeloop nie.
“Die beskuldigdes moes nou al teen hierdie tyd gearresteer gewees het en voor die hof verskyn het. Die VF Plus wil weet waarom daar nog niks van hierdie ondersoeke gekom het nie. Ons is bekommerd dat hierdie mense wat beskuldig word, dalk weer stil-stil in hul poste aangestel gaan word en dit mag onder geen omstandighede gebeur nie. Die beskuldigdes kan en mag nooit weer met mense se lewens vertrou word nie.
“Dit het ook hierdie week aan die lig gekom, tydens ‘n sitting van die Gautengse wetgewer, dat daar nog 29 pasiënte in die sorg van die onwettige nie-regeringsorganisasies is. Dit is rede tot kommer dat hierdie organisasies nog enigsins na enige mense omsien,” het Van Staden bygevoeg.
Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410
epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za