Helen Zillle se uitlatings oor kolonialisme is moontlik net as rookskerm gebruik om haar te skors. Dit blyk uit die uitlating van die DA-leier, Mmusi Maimane, dat sy besluit om teen Zille op te tree daarop berus dat hulle ‘verskillende sienings’ het oor dit wat die DA teen 2019 wil bereik, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die DA se weergawe dat Zille geskors is oor haar uitlatings rakende kolonialisme, is boonop ‘n voorbeeld van politieke korrektheid wat oor die waarheid seëvier.
Hy sê as daar een volk in Suid-Afrika is wat swaar gely het onder kolonialisme is dit juis die Afrikaner wie se land verwoes en afgeneem is en van wie tienduisende vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf het.
“Ten spyte van hierdie vertrapping en wreedheid teenoor die Afrikanervolk en die mense van Suid-Afrika kan dit nie ontken word dat sekere aspekte van kolonialisme wel tot voordeel van die land en sy mense gestrek het nie.
“Dit help nie daar word geveg vir ‘n beter verlede in Suid-Afrika nie. Ons moet eerder veg vir ‘n beter toekoms. ‘n Deel van daardie toekomsskepping is om te leer uit die geskiedenis en om nie die foute van die verlede te herhaal nie, om voort te bou uit die positiewe en dit wat geleer kan word uit die verlede.
“Wanneer politieke korrektheid gebruik word om ‘n beter verlede te skep, sal ons nie ‘n beter toekoms kan skep nie, want dan word mense mislei.
“Die VF Plus glo daar is baie te leer uit die verlede, selfs van kolonialisme, en dat ons moet voortbou op die positiewe bydraes daarvan om ‘n beter toekoms te skep,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403