Die Wes-Kaap het die afgelope dae gebuk gegaan onder beproewende weersomstandighede en verwoestende brande, en alhoewel die reën in die droogtegeteisterde gebiede verwelkom word, wil die VF Plus sy diepste simpatie betuig met die verlies aan menselewens in die proses.
Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus en die party se leier in die Wes-Kaap, sê daar is nog nie duidelikheid oor die presiese omvang van die skade in Knysna en elders nie, maar berigte van groot skade en menseverlies is reeds wyd gerapporteer.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op mense om hul harte en beursies oop te maak vir almal wat deur die storms en brande geraak is. Verskeie donasiepunte is geskep waar kos, klere en geld geskenk kan word aan mense in nood.
“Wat die stormweer aanbetref, is ‘n mens bly oor elke druppel reën wat val, maar terselfdertyd is dit altyd jammer as dit met lewensverlies, skade en ontbering gepaard gaan.
“Dit is prysenswaardig dat Suid-Afrikaners altyd in krisistye soos hierdie wys hulle kan hande en mekaar ondersteun,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403