Die oorsaak van die vernietigende brande in en om die Knysna-gebied moet dringend ondersoek word en die bevinding moet so spoedig moontlik aan die publiek bekend gemaak word, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê dit is veral nodig gesien in die lig van ‘n artikel gister in Rapport waarin geskryf word dat ‘n ingenieur, dr. Wallace Vosloo en sy buurman, mnr. Anton du Plessis, beweer hulle het ‘n tyd gelede reeds ‘n smeulende brand in die omgewing gerapporteer by die brandweerhoof op Sedgefield, mnr. Wayne Sternsdorf, maar dat daar nie opgetree is om dit te blus nie.
“In ‘n woudagtige gebied soos daardie is dit uiters onverantwoordelik en nalatig om ‘n smeulende brand nie dadelik te blus nie, en antwoorde moet hierop verskaf word.
“Die polisie moet ook ondersoek doen na die moontlikheid van brandstigting aangesien verskeie brande binne ‘n kort tydperk ontstaan het vanaf George regdeur tot in Port Elizabeth. Dit is verdag dat brande so kort na mekaar oor so ‘n groot gebied kon ontstaan. Die ondersoek moet in samewerking met die Eden-distriksmunisipaliteit gedoen word.
“Dit help nie die polisie doen nou ‘n ondersoek na die verspreiding van vals- of fopnuus op sosiale media nie. Daar moet eerder ondersoek ingestel word na die moontlikheid of daar wel enige misdaad soos brandstigting was, en die feite moet aan die publiek bekend gemaak word.
“Verlede jaar het daar ook verskeie brande op ‘n soortgelyke wyse oor ‘n groot gebied binne ‘n kort tydsbestek in die omgewing van die Kaapse Skiereiland ontstaan en daar is toe ook verskeie beweringe van brandstigting gemaak.
“Die VF Plus het die polisie toe ook gevra om die beweringe en die oorsprong van die brande te ondersoek en terug te rapporteer, maar tot op hede is nog geen antwoorde daaroor ontvang nie, en die VF Plus versoek opnuut dat die bevinding van dié ondersoek bekend gemaak word.
“Die publiek kan nie kwalik geneem word indien misdadigheid wel ‘n element is in die oorsaak van die brande nie, en daarom moet antwoorde spoedig verskaf word,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403