fbpx
Vryheidsfront Plus

Ware leierskap is nodig om die Oos-Kaap te red

(Debat in Oos-Kaapse wetgewer oor provinsiale openingsrede-2022)

Die Oos-Kaap het ware leierskap nodig om dié provinsie se potensiaal te ontgin tot voordeel van al sy inwoners.

Die premier van die Oos-Kaap, Oscar Mabuyane, se provinsiale openingsrede het egter geklink soos ‘n verkiesingsveldtog vir volgende maand se ANC-provinsiale leiersverkiesing.

Mabuyane se openingsrede was basies ‘n herhaling van beloftes van sy vorige openingsredes.

Daar sal gesien moet word of die premier se onderneming om 77 nuwe skole te bou, gaan realiseer indien ‘n mens in ag neem hoeveel honderde skole daar in die provinsies is wat vervalle is, nie oor behoorlike toiletgeriewe of genoeg onderwysers beskik nie. Die departement kon nie eers daarin slaag om leerders betyds van die nodige skryfbehoeftes en handboeke te voorsien nie.

Om omkeerstrategieë vir die departemente van onderwys en gesondheid aan te kondig, maar geen besonderhede bekend te maak oor wat daardie omkeerstrategieë behels en hoe dit bereik gaan word nie, beteken niks.

Die enigste omkeerstrategieë wat ‘n verskil in die twee departemente se wanfunksionaliteit sal maak, is om van kaders ontslae te raak en hulle te vervang met bekwame bestuurders en om korrupsie uit te roei.

In verlede jaar se openingsrede het die premier hom daartoe verbind om die mangaanterminaal teen die einde van Desember 2021 na Coega te verskuif. Dit was weereens ‘n leë belofte.

In sy 2019-openingstoespraak het die premier uitgelig dat die Oos-Kaap onderontwikkel is met ‘n hoë werkloosheidskoers, ongelykheid en hoë vlakke van armoede. Om die uitdagings aan te spreek, sou die ontwikkeling van die Nelson Mandela-korridor onder meer geprioritiseer word. Dit was ook slegs woorde sonder dade. Suurlemoene wat in die Oos-Kaap gekweek word, word steeds deur die Durbanse hawe na Sjina uitgevoer.

Om die swak stand van plaaslike regering uit te lig, is nie genoeg nie. As premier moet hy optree en die nodige stappe neem om wanfunksionele munisipaliteite aan te spreek.

Die VF Plus glo dat die Oos-Kaap oor geweldige potensiaal beskik. Die mense van die Oos-Kaap – alle gemeenskappe – moet die geleenthede gegun word om saam te bou aan 'n wen-provinsie. Slegs met die afskaffing van die ANC se mislukte beleid van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) sal die Oos-Kaap tot sy volle potensiaal kan ontwikkel. Gelyke geleenthede moet vir almal geld.

Ekonomiese ontwikkeling en groei sal nie plaasvind solank infrastruktuur uitmekaar val en die basiese dienste nie gelewer word nie. Of die premier egter oor die politieke wil beskik om ‘n einde te bring aan kaderontplooiing en die plundering van belastingbetalersgeld, is te betwyfel.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.