(Debat oor Gautengse openingsrede-2022)
Ná 27 jaar van ANC-wanbestuur gaan dit veel slegter met die inwoners van Gauteng as tevore.
Die ANC kon nie eens die feit dat Gauteng die ekonomiese reus van Afrika is, tot sy voordeel aanwend om 'n beter lewe vir sy inwoners te skep nie.
Ten spyte van die feit dat die ANC 'n provinsie met baie potensiaal geërf het, is die stand van sake tans beroerd soos bewys deur talle gevalle van wanbestuur.
Eerstens, staar Gauteng die grootse werkloosheid- en misdaadkoers in sy geskiedenis in die gesig.
Tweedens, is Gauteng se skoolstelsel daarop gerig om ‘n maksimum-slaagsyfers te bewerkstellig ten koste van kwaliteit en die inwoners is gestraf met 'n onwettige belasting in die vorm van e-tol.
Onder die ANC is talle weerlose gestremde persone dood met die Life Esidimeni-skandaal sonder dat enigiemand verantwoording gedoen het.
Gewetenlose korrupsie en diefstal van Covid-19-fondse het plaasgevind onder die dekmantel van swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Ook dit het strafloos plaasgevind.
Die ANC het groot skade veroorsaak aan die skoolgemeenskappe in Gauteng weens polariserende ANC-beleid oor skooltoegang terwyl swak monitering van skoolinfrastruktuur gelei het tot tragedies by die Laerskool Geluksdal en die Hoërskole Driehoek- en Overvaal.
Laastens, het die gebrek aan die skep van nuwe infrastruktuur en die gebrekkige onderhoud aan bestaande infrastruktuur, die provinsie se ekonomie erg geknou.
Wat die premier se voorstel rakende die ANC se regrukplan betref, het die VF Plus 'n probleem met die feit dat die ANC steeds verwys na die ou ekonomiese ontwikkelingsplan, die sogenaamde Growing Gauteng Together-2030-plan, wat opgestel is voor die Covid-19-pandemie in die provinsie uitgebreek het.
Die feit dat die ANC staatmaak op dié uitgediende plan, is tekenend van sy gebrek aan sinvolle aksieplanne om die agteruitgang in die provinsie spoedig om te draai. Die bestaande plan het tot dusver geen substantiewe nuwe beleggings na Gauteng gelok nie.
Die ANC spog met beleggings in die vorm van uitbreidings in die spesiale ekonomiese sone vir motorvervaardiging in die Tshwane-metro, maar hierdie beleggings kom slegs van bestaande ondernemings.
Buiten ander ekonomiese sones, soos die Oos-Randse Aerotropolis en Centurion se lugvaartpark is daar feitlik geen nuwe ekonomiese aktiwiteite nie.
Die premier, David Makhura, se aankondiging van beleggings in die Vaal-ekonomiese sone is te min te laat en kaders het waarskynlik reeds hul oë hierop gerig.
Die VF Plus het egter kennis geneem van Makhura se nuwe uitnodiging om die party se eie ekonomiese regrukplan aan hom voor te lê, en sal dit aan hom verskaf.
Dié plan van die VF Plus sal sinvolle ekonomiese groei verseker en sal tot voordeel wees van al Gauteng se inwoners indien dit in werking gestel word.