Die VF Plus betuig sy innige meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van die 50 jarige polisiekaptein wat in die vroeë oggendure van 26 Augustus tydens ’n skietery in die Sewende Laan informele nedersetting in Knysna dood is.
Sy naam kan nog nie bekend gemaak word nie.
Die verlies van ’n kollega in die uitvoering van sy pligte laat ’n diep leemte, nie net by sy familie nie, maar ook binne die polisie en die gemeenskap wat hy met toewyding gedien het.
Die oorledene was verbonde aan die provinsiale taktiese reaksiespan en is na Knysna ontplooi as deel van ondersoeke na die moorde op wyksraadslid en voormalige burgemeester Aubrey Tsengwa, asook op Mandla Matiwane en Mandla Tyololo, verlede week.
Hierdie tragiese voorval beklemtoon die toename in geweld en die feit dat polisiebeamptes wat hul lewens in diens van die gemeenskap waag, self die teiken van gewapende misdadigers word.
Aanvalle op die polisie is onaanvaarbaar. Beamptes moet hul werk kan doen sonder om voortdurend vir hul eie veiligheid te vrees.
Die VF Plus doen ’n beroep op die polisie en alle betrokkenes om die ondersoek na die skietery deeglik en sonder vrees voort te sit.
Diegene wat verantwoordelik is vir onwettige vuurwapens, moorde en geweldsmisdaad, moet tot verantwoording geroep word.


