Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-speaker laat belangrike oorsigkomitees byna sewe maande sonder voorsitters

Die voortgesette versuim van die speaker van die Ekurhuleni-metro, John Senona, om drie vakante voorsittersposte van oorsigkomitees te vul, het nou ’n ernstige bedreiging vir die raad se oorsigfunksie geword.

Die voorsittersposte van die volgende komitees is sedert Februarie en Maart vakant:

• Water, sanitasie en energie
• Geslag, kinders, jeug en persone met gestremdhede
• Die staande komitee vir integriteit

Ingevolge die raad se staande reëls moet ’n nuwe voorsitter binne 30 dae nadat ’n vakature ontstaan het, verkies word. Daardie tydperk het maande gelede reeds verstryk.

Die VF Plus het die voorgeskrewe proses gevolg en nominasies reeds op 10 Junie 2026 by die speaker se kantoor ingedien. ’n Verslag moes daarna saamgestel en saam met die nominasievorms voor die raad dien.

Die items het egter nie op die raadsvergadering van 30 Julie verskyn nie, en dit staan ook nie op die agenda van die Augustus-vergadering nie.

Die raad het nou slegs twee raadsvergaderings oor tot die plaaslike regeringsverkiesing in November om hierdie sake af te handel. Wat binne 30 dae afgehandel moes word, sloer nou al byna sewe maande.

Hierdie herhaalde versuim kan nie langer as bloot ’n administratiewe fout afgemaak word nie. Dit wek ernstige vrae waarom ’n verpligting ingevolge die staande reëls nie nagekom word nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat ’n volledige verduideliking vir die voortgesette versuim verskaf word, asook die versekering dat die drie verkiesings sonder verdere vertraging voor die raad sal dien.

Alhoewel dit kort voor die plaaslike regeringsverkiesing is, bly dit noodsaaklik dat die voorsitters so gou moontlik aangewys word. Daar is steeds talle uitstaande items en oorsigwerk wat behandel moet word, en die komitees kan nie doeltreffend funksioneer sonder leierskap nie.

Inwoners van Ekurhuleni het op 4 November 2026 die geleentheid om ’n duidelike keuse te maak vir ’n beter regering, sterker oorsig en ’n raad wat sy eie reëls respekteer.

Die VF Plus sal voortgaan om aan te dring op verantwoordbaarheid, behoorlike prosedure en ’n munisipale regering wat vir sy inwoners werk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.